Delmas Herleef sluit 2021 in goeie gees af
Nadat daar lekker aan ’n ontbyt gesmul was, was dit tyd vir beplanning vir 2022.
Delmas Herleef het hul jaar op Woensdag, 1 Desember in goeie gees in die saal van die Hervomde Kerk op Delmas afgesluit.
Sedert dié vrywwilligersgroep vroeër vanjaar gestig is, is vele projekte aangepak en suksesvol afgehandel.
Sommige langtermyn-projekte sal volgende jaar voortgesit word.

Gesellige kuier met me. Diane Bath en ds. Marius Joubert (voor), Me. Eugenie de Bruin en me. Madel Fourie (middel) en Doret Maritz (agter).
Nadat daar op 1 Desember lekker aan ’n ontbyt gesmul was, was dit tyd vir beplanning vir 2022.
Daar word onder andere beplan om met ’n volhoubare herwinningsprojek te begin.
“Rommel-stooi bly ’n probleem en moet aangespreek word.
“Deur ’n kompetisie aan te bied en ons jeug in te lig oor die belangrikheid van ’n skoon omgewing, hoop ons om die belangrike boodskap na ouerhuise en die res van die gemeenskap oor te dra,” het dr. Martin van Rensburg, voorsitter van Delmas Herleef, gesê.
Die groep beplan dan om vroeg in 2022 met hul herwinningsprojek af te skop.
Die besonderhede van die kompetisie sal ook vroeg in die jaar bekendgemaak word. ’n Volhoubare herwinningsprojek roep op die horison.
Delmas Herleef het ook onderneem om voort te gaan om die paaie binne Delmas te onderhou deur slaggate te vul.

“Dit bly ook ’n aanhoudende uitdaging, maar kan nie gestaak word nie.”
“Ons moet almal hande vat en saamwerk om die herlewing van Delmas te bevorder,” het dr. Van Rensburg gesê.
Na afloop van die beplanningsvergadering vir 2022, het me. Madel Fourie vir dr. Van Rensburg bedank vir positiewe benadering tot sy gemeenskap en Delmas.
“Ons het bietjie meer as ’n jaar gelede op Erfenisdag papiere opgetel en het ek by myself gedink; ‘Ek ken nie eers hierdie dominee nie, hy het nie hier groot geword nie, maar tog is hy bereid om papiere op te tel’.
“Daar en dan was die eerste vergadering belê en het Delmas Herleef tot stand gekom. Van toe af weet ons ook dat ons op dr. Martin kan staatmaak, hy kan beplan, bestuur én hy kan raakvat.
“Ons as lede van Delmas Herleef waardeer sy insette opreg,” het me. Fourie gesê.
Gewillige inwoners van Delmas, goeie beplanning, deursettingsvermoë, uitstekende leierskap met die onderskraging en ondersteuning van plaaslike sakelui en boere vanuit die omgewing, blyk die resep te wees vir die sukses wat Delmas Herleef tot op hede behaal het.




