Local newsNews

Dominee bemoedig VLU-vroue by jaarafsluiting op Bethal

Woon Bethal VLU-tak se eerste vergadering in 2022 by.

Vroue van die Bethal VLU-tak het op Maandag, 22 November hul jaar afgesluit met ’n kort vergadering, ’n ontbyt en ’n kuiersessie.

Ds. Evert Bergh het die geleentheid geopen met gebed en met ’n gedagte eie aan die VLU se leuse vir 2021, naamlik: ‘Ons eer die verlede, vier die hede en omhels die toekoms’.

Ds. Bergh het gesê hy dink die Here wil hê mense moet dankbaar terugkyk na die verlede en die mooi herinneringe onthou en hoopvol na die toekoms sal uitstrek.

“Ons moet in die hede vir die Here leef,” het ds. Bergh gesê.

“’n Mens kan op so ’n manier aan die verlede vashou en op so ’n manier oor die toekoms bekommerd wees en sekere doelwitte wil bereik, dat ’n mens hiér in die hede, die hiér en nou nie beskikbaar is vir dit wat die Here hier en nou wil verander en wil doen deur ’n mens nie.”

Hy het vertel dat hy en sy kinders ’n paar jaar gelede die staproete by Tafelberg gedoen het en gesê dit is ’n lieflike staproete. e

“As jy daardie staproete sou stap, en jy is iemand wat net die heel tyd dink wat jy nog wil bereik en doelwitte opstel, items op lysies aftik, nog staproetes wat jy wil gaan stap, of as jy baie bang is vir die toekoms, kan dit wees dat jy nie mooi kyk wat jy doen nie, want jy is so op die toekoms gerig dat jy nie mooi kyk waar sit jy jou voet hier neer nie.“Jy kan nie die sonlig deur die bome sien val nou nie, jy kan nie die water hoor kabbel oor die klippies nie, of die mooi veldblommetjies sien nie.

“Hoekom nie?

“Want jy is nie tevrede met die hier en nou nie.

“ Vir die mense saam met wie jy stap wat dalk wil rus, gaan jy sê: ‘nee, ons kan nie rus nie, ons moet aanstoot ek wil dáár kom’.

“Baie van ons is nie tevrede met die hier en nou nie, ons wil in die toekoms wees, vorentoe.

“As ’n mens so leef, dat ’n mens wil beheer neem oor jou toekoms, en oor die dinge wat jy nog wil doen, dan gaan jy die hier en die nou, die mooi misloop.

“Jy kan ook in die verlede, waar dinge baie sleg gegaan het met jou, bly vassteek.

“Jy kan nie hier wees nie, want jy is vasgevang in die verlede.

“Jy kan nie hierdie oomblik geniet nie, want jy is bang die slegte dinge gaan herhaal word.

“Dit kan ook wees dat jy iets in jou verlede wat wonderlik was, vergelyk met wat jy nou het en besef dit is nie wat ek toe gehad het nie.

“Jy is vasgevang is daardie wonderlike ervaring en jy kan nie in die hiér en nou van hierdie oomblik wees nie.

“Die Here Jesus wil deur sy kruisdood en opstanding ons by ’n punt bring waar ons ’n bietjie los is van die verlede in die opsig dat ons nie vasgevang word deur die positiewe en negatiewe dinge van die verlede nie, maar dat ons Hom in die hiér en nou kan ontvang vir wat Hy nou vir ons wil doen.

“Wat die toekoms betref, sê die Here, gee oor aan my.

“Moenie probeer om jou eie toekoms te skep nie.

“Sit jou afmerklysie ’n bietjie neer, want die Here hou jou vas en moet ook nie bekommerd wees oor more nie.

“Hy wil ons bevry van ons krampagtige greep op die toekoms.

“Om oop te wees vir die oomblik.”

Ds Bergh, en sy vrou, me. Renalda Bergh, het die VLU-vroue vermaak met ’n optrede en het twee liedjies gesing.

Die Bethal VLU-tak vergader volgende jaar weer en belangstellendes wat by dié tak wil aansluit of hul volgende byeenoms wil bywoon, kan me. Lynette Posthumus skakel op 72 203 6230.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button