Vlieënier sterf toe vliegtuig by Bronkhorstspruit neerstort
"Ons het gesien hoe iets afbreek en toe val hy af grond toe. Die een vlerk het in die middel afgebreek."

‘n Vlieënier is op Dinsdag, 7 Desember, opslag dood toe sy ligte vliegtuig naby Bronkhorstspruit neergestort het.
Die 49-jarige man was die enigste insittende in die tweesitplek-vliegtuig.
Die vliegtuig het naby Baja Dam se kampeerplek by Bronkhorstbaai geval.
‘n Vlerk is naby kampeerders se tent gevind. Nog wrakstukke is sowat 200m van die ablusieblok af opgespoor.
Die vlieënier het glo in Springs gewoon en was bekend vir sy akrobatiese vliegtoertjies.
‘n Oogetuie het op haar stoep gesit toe die vliegtuig neergestort het.
“Die vliegtuig het oor die dam gevlieg, redelik laag.
“Daar was skielik ‘n erge wind. Ons het gesien hoe iets afbreek en toe val hy af grond toe. Die een vlerk het in die middel afgebreek.”
Die vliegtuig het nie gebrand het nie. Sommige mense het beweer dat hulle nie die engin gehoor het nie.
“Daar word gesê dat die enjin dalk gestol het.”



