Charlien de Klerk verklap meer oor haar lewe
Vaalrivierskool het behoorlik haar kunssinnige streep aangewakker.
Om ’n onderwyser, moeder, bemarker en bietjie van ’n kunssinnige entrepreneur te wees, is geensins onmoontlik nie.
Me. Charlien de Klerk van Vaalrivierskool het al baie aangepak.
Die plaaskind van die Perdekop-omgewing het na skool op Volksrust, gaan onderwys studeer aan die Universiteit van Pretoria.
Nadat sy haar BPrimEd (Junior Primêr) graad verwerf het, het sy op n vliegtuig geklim en au pair vir ’n jaar gaan speel in die VSA-deelstaat, beroemd of berug vir sy Suidelike aksent, steaks en ooptes.
’n Agentskap in Suid-Afrika het haar in 1998 voorberei wat moontlik in die vreemde kon wag.
“Ek het die Amerikaners ongelooflik gasvry en met goeie maniere beleef,” het Charlien gesê.
“Ook het ek met wonderlike mense te doen gekry.
“So ’n ondervinding verruim jou om die lewe in sy volheid te sien.”
Die gesin met drie seuns het daarvoor gesorg dat sy ’n internasionale bestuurderslisensie bekom en wetlik vir ’n jaar in Amerika kon bly.
Haar hart het sy op die Rocky Mountains in Colorado verloor.
“Ek is en bly maar ’n bergmens,” het sy bygevoeg.
Charlien is tot vandag toe in verbinding met ’n vriendin wat nou in Oostenryk woon, wat deel gevorm het van au pairs regoor die wêreld.
Die jong vroue het hegte vriendskapsbande gesmee.
Met haar studies by Tukkies het die koshuislewe by Katjiepiering gewag, alvorens sy ’n woonstelbewoner in Hatfield geword het.
“n Stukkie van Pretoria sal altyd deel van my bly.”
Tussendeur het sy fooitjies in ’n restaurant verdien.
’n Musiekstudent was haar buurman in die woonstelblok en die wêreld van onder meer Rachmaninoff is bekendgestel.
“Ek kon na my eie, privaat ‘concerto’ luister.”
Op skool het sy wel klassieke kitaarlesse geneem, ongelukkig nou verleer, by ene dr. Galloway.
“Móre oom,” het sy destyds aan die leermeester gesê.
“You can call me Dr Galloway,” het hy geantwoord.
Sy het Hein de Klerk in 2003 ontmoet en hul huweliksbevestiging was in Oktober 2004.
Charlien het haar onderwysloopbaan by CVO-Majuba op Volksrust begin.
Sy het onder meer by Laerskool Standerton en Standerton Primary School skoolgehou en was vir ‘n kort rukkie in die kleinhandel, alvorens sy by die Valies begin het.
Vaalrivierskool het behoorlik haar kunssinnige streep aangewakker.
Dié LSEN-skool onderrig leerders in die TO-kurrikulum (Technical Occupational) en fokus daarop om hulle gereed vir die arbeidsmark te maak.
Gespesialiseerde dienste wat beskikbaar is, is die van ’n opvoedkundige sielkundige, maatskaplike werker, arbeidsterapeut en verpleër.
“Die skoolhoof, mnr. Marius Janse van Rensburg, die bestuurspan en onderwysers is uiters bekwaam,” het Charlien gesê.
Valies het ‘n akademiese en tegniese baan en aan die tegniese kant, neem seuns hout- of metaalwerk.
Sy onderskryf geheel en al verwysing na ’n professionle persoon.
Haar entoesiasme in die ‘Creative arts’-klas het haar gesien as koördineerder en uiteindelik sameroeper van dié vak by die LSEN-skole in die omgewing.
“Jô, ek en my groot mond.
“Kan ek nie maar soms stilbly nie?”
Die seuns word touwys in gesigstudies, elementêre argitektuur, drie-dimensionele kuns gemaak en kry ook die geleentheid om ’n Van Gogh, Picasso en Kandinsky van nader te leer ken.
“Ek het op dié wyse ’n deel van myself leer ken.”
In Charlien se klaskamer by die Valies pryk onder meer bedkassies, braaiers, ’n ‘painter’s bench’ of vier wat reg in haar kraal pas as bemarkingsbeampte van die skool.
“Hout bly maar my ding,” aldus Charlien.
Valies verkoop die goedere vir geldinsameling en sy skaf soms self aan om te verf en te bewerk.
Standertonners gaan na haar mening nie mank aan entrepreneurs wat klein industrieë op die been gebring het en mooi artikels van die hand sit nie.
Die De Klerks se jaarlikse vakansie-instelling is die kampeervakansie by Rocky Bay op Scottburgh.
Die kinders is in hulle element aan die Suidkus.
“Hulle beleef daar ’n tipe vryheid.
“Om te kampeer, leer ’n kind van kleinsaf en ouers om dit wat jy het, te waardeer.”
Die honde by die huis, wat tot in die afgrond bederf word, word behoorlik dan deur ’n vriendin na omgesien.
Haar liefde vir handgemaakte goed, as ’n mens ’n etiket moet omhang, maak van haar ’n ‘crafts’-persoon.
“Dit is vrek lekker.”



