Geraasbesoedeling by Standerton Rivierpark
Volgens hom, is die Covid-19 regulasies geïgnoreer wat betref die aandklokreël.
Standerton Rivierpark is ’n gewilde plek vir byeenkomste van uiteenlopende aard, maar die geraasbesoedling het sommige inwoners warm onder die kraag.
Musiek wat somtyds na middernag gespeel word, dra by tot die frustrasie.
Mnr. Corné Stoltz, wyksraadslid van die Vryheidsfront Plus, het met die Standerton Advertiser op Vrydag 17 Desember in verbinding getree en die problematiek rondom afdwinging van munisipale verordeninge aangeraak.
Mnr. Stoltz het verwys na ’n byeenkoms die vorige dag wat, na bewering, tot omstreeks 3:00 geduur het.
Volgens hom, is die Covid-19-regulasies geïgnoreer wat betref die aandklokreël.
Die koerant het die kommunikasiebeampte van die Standerton Polisie, adj,-off. Nkosinathi Khanyile, op 17 Desember geskakel om agter die kap van die byl te kom.
“Die polisie is bewus van partytjies wat op Standerton gehou word, maar kan dit nie in alle gevalle beheer nie,” het hy gesê.
“Lekwa Munisipaliteit staan in beheer van byeenkomste by die rivierpark.”
’n Daaropvolgende WhatsApp-boodskap is aan die kommunikasiebestuurder van die munisipaliteit, me. Thobeka Mtshiselwa, gestuur vir kommentaar.
Lesers sal op hoogte van die terugvoering gehou word.



