Local newsNews

Ouma Kobie vier 101 jaar

Palmoord Ouetehuis op Bethal maak verjaardag spesiaal.

Me. Jakoba Kloppers, of Ouma Kobie soos wat meeste mense haar ken, het op Maandag, 20 Desember, haar 101ste verjaardag by die Palmoord Ouetehuis op Bethal gevier.

Sy is op Potchefstroom gebore en het vir jare saam met haar man, mnr. Jakobus Kloppers, op ’n plaas naby Fochville geboer.

Sy mis soms die plaaslewe, maar sy bly lekker op Bethal.

Sy het die plaas vir die Kaap verruil ná haar man se dood en het vir so paar jaar by haar oudste seun in die Kaap gewoon voordat sy na Bethal verhuis het.

Me. Jakoba Kloppers (Ouma Kobie) op haar 101ste verjaardag by Palmoord Ouetehuis op Bethal op Maandag, 20 Desember (Foto: Verskaf)

Sy het drie kinders gehad waarvan net een nog lewe.

Haar enigste dogter, me. Anna Kotze, woon op Secunda.

Baie van me. Kloppers se kleinkinders en agterkleinkinders, het verlede jaar, toe sy ’n honderd jaar oud geword het, dié spesiale dag saam met haar gevier.

Die bestuurder van Palmoord Ouetehuis, me. Marthie van der Walt, by me. Jakoba Kloppers (Ouma Kobie) op haar 101ste verjaardag op Maandag, 20 Desember. (Foto: Verskaf)

Twee van haar kleinkinders het verlede naweek, vir haar 101ste verjaardag, by haar gekuier op Bethal en vir die naweek oorgeslaap.

Die personeel en inwoners van Palmoord het Maandag vir haar ’n teepartytjie gereël met ’n spesiale koek.

Buiten dat sy nie meer so goed kan hoor nie, makeer me. Kloppers niks en kan nog loop en woon al die aktiwiteite by Palmoord by.

Sy kan selfs nog brei en hekel en lees met ’n bril.

Sy kuier graag met die ander inwoners en kyk televisie saam met hulle.

Die personeel van Palmoord het haar ’n geseënde en gelukkig verjaardag toegewens.

Me. Jakoba Kloppers (Ouma Kobie) se verjaardagkoeke. (Foto: Verskaf)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button