Ouetehuis op Standerton kom in die regte stemming vir Kersfees
Met verwysing na Matt.25:40, is die koor ’n pluimpie gegee vir hul welwillendheid teenoor die senior burgers.
Kosmos Aftree-oord se inwoners is op Woensdag 1 Desember verras met ’n kooruitvoering en kort diens, wat die feesgety ingelui het.
’n Tent, keurig opgetooi, is aan die noordekant van die terrein opgestel en twee leerders van Hoërskool Standerton het as seremoniemeesters opgetree.
SHS se koor het begin met ‘Oh come all ye faithful’ en Kersfees se tradisionele gunsteling, ‘Stille Nag’ ook gesing.
Past. Ernest Potgieter van die AGS Kerk het in sy boodskap beklemtoon dat Christus in die middel van Kersfees geplaas moet word.
Met verwysing na Matt.25:40, is die koor ’n pluimpie gegee vir hul welwillendheid teenoor die seniorburgers.
Me. Sanpat Coetzee van die bestuur, het aangesluit by past. Potgieter en die Christelike boodskap onderskryf.
Die afgelope gholfdag wat deur me. Louise Visagie gereël is, se syfers is nog nie bekend nie.
Twee personeellede, me. Zola Benjamin en mnr. Gert Mocke, wat nie die prysuitdeling by die Standerton Buiteklub kon bywoon nie, het geskenke ontvang, asook me. Visagie.
Dr. Mollie Lyons het tydens haar kort spreekbeurt gesê dat die ouetehuis trots is om met SHS geassosieer te word.
Leerders het daarna tussen die rye beweeg en roomystokkies uitgedeel.
Hoërskool Standerton maak gereeld ’n draai by die ouetehuis om met die inwoners te kommunikeer.







