Local newsNews

Ruan Reynecke van Standerton draai nie lesers ’n rat voor die oë nie

Hoewel hy steeds behendig die kaarte skommel vir ongewone kaartkunsies, slaan sy kop nou ’n ander rigting in.

’n Onderwysstudent van Standerton hou hom besig met toorkunsies en kitaarspel, met die skaal wat toenemend in die guns van ’n musiekloopbaan swaai.

Mnr. Ruan Reynecke is op 20-jarige leeftyd deeltyds aan die studeer by Unisa vir ’n B.Ed en werksaam by Laerskool Kalie de Haas.

Hy is vir 10 modules ingeskryf.

“Ek het eksamen in September en Oktober geskryf en my uitslae reeds ontvang,” het Ruan gesê.

Kalies is waar hy as student byderhand is en musiekteorie en kitaarlesse gee in die middae.

Ruan is die trotse besitter van ’n elektriese en akoestiese kitaar en het homself oor ’n tydperk van twee jaar leer speel.

Musiekteorie is onder die knie by ’n kundige in Johannesburg gekry.

“Ek wil beslis eendag in ’n ‘band’ speel,” aldus Ruan.

Volgens hom het kitaarspel sy hoogtepunt in die 80’s bereik, met Guns n Roses se Slash wat komplekse melodieë bemeester en iemand soos Mark Knopfler van Dire Straits en Queen is ook nie te versmaai nie.

“Van al die kitaarspelers, het Slash my beslis beïnvloed.”

Rock is sy ding, maar folk speel nie noodwendig tweede viool nie.

Daar is geen sprake van verhoogvrees by kitaaroptredes nie siende sy melktande gewissel is met die ander optredes, waar hy met kaarte kul, verbluf en toor.

Dit het alles op 11-jarige leeftyd met ’n pak Bicycle-kaarte begin.

“Ek het eers weer in gr. 8 daarmee verder gegaan en dit ernstig opgeneem.

“Dit het vier jaar geneem om myself op die vlak te kry waar ek nou is.”

Ruan het selfs rugby opgegee toe sy naweke so bedrywig begin raak het met uitnodigings na gesellighede.

Hy het in 2018 by Standerton se skouterrein sy slag met toorkunsies gewys.

Sommige kaartkunsies is moeiliker as ander en behels ’n fyner aanslag.

Ruan het met sy oë op televisiekanale gesteel en ’n vertoning van Dynamo in 2018 in die Menlyn-sentrum in Pretoria bygewoon.

“Ek het my inspirasie by hom gekry.”

Oplettendheid het gewis die deurslag gegee.

Nie eens stip-dophou by ’n geselligheid, waaronder die koerant, verklap sy geheime nie.

Stomme verbasing en ongeloof is die gevolg.

“Ek hou daarvan om die mense se reaksies te sien.”

Hoewel hy steeds behendig die kaarte skommel vir ongewone kaartkunsies, slaan sy kop nou ’n ander rigting in.

“Ek het ’n kitaar opgetel en dit voel asof ek dit nog nooit neergesit het nie.”

Hy oefen met die kitaarlesse maklik vier ure daagliks.

“As ek nie fisies daarmee besig is nie, dink ek in ieder geval daaraan.”

Hy het al akkoorde gekomponeer en lirieke is vir hom belangrik en met sowat 300 liedjies op sy selfoon, draal deuntjies in sy kop.

Ruan Reynecke is pragmaties, vasbeslote om sy doel te bereik en sal dit moontlik ook sonder fanfare doen.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button