Ma is moeg gesukkel met hospitaal om gestremde seuns te help
Lewe met twee tienerseuns wat gestremd is, is moeilik.
Me. Franciska van Staden se twee seuns, Rudolph (15) en Francois (16), is sedert hul geboortes verskeie kere bykans dood en sal vandag nie in ’n normale skool kan funksioneer nie.
Beide is op ’n jong ouderdom reeds met dieselfde ses siektetoestande gediagnoseer.
Dié toestande sluit in ADHD (hiperaktiwiteit), epilepsie, outisme, disleksie, skoliose en ’n seldsame toestand wat as Angelman-sindroom bekend staan.
Angelman-sindroom is ’n geestelike gestremdheid.
Rudolph ly ook aan Prada Willi-sindroom, ’n rare genetiese afwyking wat tot verskeie geestelike en gedragsprobleme lei.
Me. Van Staden het gesê Rudolph steel kos vanuit die yskas en koskaste en weet nie wanneer om op te hou eet nie.
“Ons moet al die kos toesluit sodat hy dit nie kan kry nie,” het me. Van Staden gesê.
Rudolph is in Evander Hospitaal gebore.
Me. Van Staden het met hom in haar arms gelê en slaap in die hospitaal toe die suster vir haar sê haar baba is dood.
“Hulle het hartmassering toegepas en hy het weer begin asemhaal,” het me. Van Staden gesê.
Rudolph het in die eerste vier maande van sy lewe drie keer opgehou asemhaal en Francois was al vyf keer bykans dood waartydens hy ook ophou asemhaal het.
Francois is met ’n gat in sy hart gebore en die mediese personeel by Evander Hospitaal waar hy ook gebore is, het kort na sy geboorte agtergekom daar is komplikasies.
Hulle het hom na Witbank Hospitaal oorgeplaas en in dié tyd het hy ook minstens twee keer opgehou asem haal waartydens die verpleegpersoneel al vir me. Van Staden gesê het haar baba is dood.
Me. Van Staden en haar man, mnr. Daniël van Staden, is vandag dankbaar dat beide hul seuns nog leef.
Dié gesin kan egter, weens die twee seuns se toestande, nie ’n normale lewe lei nie.
Die seuns gaan nie skool toe nie, want hulle kan nie in ’n normale skool funksioneer nie.
Hulle was vir ’n rukkie in Marietjie Skool, maar hulle kon ook nie daar aanpas nie.
“Ons bly maar meestal by die huis, ons kan nêrens heen met hulle gaan nie,” het me. Van Staden gesê.
Beide seuns se breine is nie verder ontwikkel as dié van ’n laerskoolkind nie en hulle hou hulself besig deur speletjies op die selfoon of PlayStation te speel.
“Ek is maar baie op my knieë, ’n mens sal nie kan funksioneer met sulke kinders sonder die Here nie,” het me. Van Staden gesê.
Beide seuns is eers in 2019 met skoliose gediagnoseer en sedertdien sukkel me. Van Staden om vir hulle hulp by Evander Hospitaal en Witbank Hospitaal te kry.
’n Dokter by Witbank Hospitaal het gesê die seuns moet vir ’n maand rugstutte dra en toe die gesin weer Witbank Hospitaal toe is vir ’n opvolgondersoek, was daar ’n ander dokter wat gesê het hy het nie rugstutte voorgeskryf nie en hulle moet dit eers vir nog ses maande dra.
“Hulle sou al op Francois se rug geopereer het. Ons het sy tas gepak en hospitaal toe gegaan, dit was vir my ’n uiters belangrike dag,” het me. Van Staden gesê.
Sy en Francois was daardie oggend al 04:00 by Evander Hospitaal want die bussie vertrek omstreeks 06:00 na Witbank Hospitaal waar Francois geopereer sou word.
Die bussie het egter met elke rit net ander pasiënte opgelaai en me. Van Staden en Francois het nooit ’n beurt gekry nie.
“Hulle het dan, elke keer as ek gevra het kan ons inklim, gesê die kombi is nou vol ons moet nog wag.
“Teen 14:00 het ons maar huis toe gegaan, want toe was Francois al moeg en honger. Ek het nie ekstra kos vir ons ingepak nie en hy moes sy medikasie drink.”
Me. Van Staden het vanaf 25 Oktober, toe Francois vir die operasie moes gaan, nog nie weer ’n woord van Evander Hospitaal of Witbank Hospitaal gehoor nie.
Sy sukkel ook al sedert Augustus om die regte hoeveelhede medikasie vir haar twee gestremde seuns by Evander Hospitaal te kry.
“As ek daar kom, dan gee hulle byvoorbeeld net die helfte of ’n deel van die medikasie wat die seuns veronderstel is om te neem, dan sê hulle dis al wat hulle in voorraad het.
“Dit gooi die kinders se bloedvlakke rond, want elke keer as ons medikasie gaan kry by Evander Hospitaal, is dit ’n ander hoeveelheid.”
Me. Van Staden kon ’n voorskrif kry vir van die medikasie, maar dit sou R3 200 kos net vir een kind s’n per maand en die gesin kan dit nie bekostig nie.
“Ek doen kontrakteurwerk en het tans nie werk nie,” het mnr. Van Staden gesê.
Die Ridge Times het Evander Hospitaal om kommentaar genader en wag nog vir terugvoer.




