Forfar-grondpad in die Rayton-kontrei is flenters getrap
Die gemeenskap se stryd het in 2016 begin toe kole-ondernemings na bewering die Forfar-rangeerwerf wat al jare gelede in onbruik was, beset het om kole wat by Palesa in Kwamhlanha in Mpumalanga gemyn word, te berg.

Die Forfar/Leeuwfontein-grondpad is flenters getrap en die inwoners van plase en plotte langs dié pad is moedeloos.
Dié grondpad strek vanaf die R104 en die R495 waarop Viva Bricks geleë is, tot by die T-aansluiting met die Ekandustria-pad tussen Cullinan en Bronkhorstspruit.
Gemeenskappe langs dié pad wat deur die verval van die pad geraak word, is inwoners van Forfar, Firolaz, Vaalbank, Leeuwfontein, Schietpoort, Hartbeesfontein, Witfontein, Overwacht en Rooikopjes.
Hulle beweer dat ’n onderneming wat die berging van kole en die versending daarvan koördineer, die pad misbruik.
Hoewel die onderneming se bedrywighede tans gestaak is, gaan dit na bewering binnekort weer begin.
Hordes swaar gelaaide vragmotors met sleepwaens het tot onlangs daagliks reuse vragte steenkool, sand en bakstene vervoer en die pad is al so vertrap dat dit vir gewone motors bykans onbegaanbaar is.

Dit het ’n kettingreaksie van verval veroorsaak: die vernielde grondpad veroorsaak baie stof en moet gereeld geskraap word, wat daartoe lei dat die pad met elke skraap net dieper uitgehol word en uiteindelik nou op die rotsbedding is met groot klippe wat in die pad ontbloot is.
Selfs afvoerpype en versterkingsdrade word blootgelê en dan deur die vragmotors stukkend getrap.
Dus is hierdie grondpad met al sy skerp klippe, stof, blootgestelde drade en stukkende pype ’n nagmerrie vir gewone padgebruikers.
Dit veroorsaak ongelukke, gesnyde motorbande, gebuigde vere en stukkende motor-onderstelle.
Ansie van der Linde, ’n inwoner van meer as 20 jaar, het al groot skade opgedoen. “Dit is die eerste keer dat hierdie pad só lyk. Die pad is baie sleg.

“Ek het op ’n keer vir ’n gat uitgeswaai en dit het my R40 000 gekos,“ het sy verduidelik.
“Skokbrekers en stabiliseerders moes vervang word en die papwiele om nie van te praat nie.
“My motor het my pas weer R3 800 uit die sak gejaag omdat dit ’n klip getref het wat ’n gat in die olie-opgaarbak geslaan het.”
Van der Linde ry al jare dié pad.
“Die klippe is nou baie erg en staan lelik uit. Al die afvoerpype is toegestoot.
“Die pype wat stukkend is, is vol grond gestoot.
“Ek gebruik daagliks die pad om my kinders by die busstop op Rayton te kry,” het sy verduidelik.
Jong kinders gebruik die pad om skool toe te pendel en die vragmotors hou ook ’n gevaar vir hulle in.

Die grond in dié gebied is vir landbou gesoneer en weens die plase in die omgewing, word die pad ook daagliks deur plaasvoertuie gebruik en ook om beeste van een kamp na ’n ander te skuif.
Die swaar stof oor die pad weens die vragmotors veroorsaak egter dat padgebruikers ook nie maklik die diere raaksien nie.
Motors se lug- en brandstoffilters word beskadig deur die verskriklike stof.
Inwoners beweer dat huishoudelike elektriese toestelle en toerusting nie ’n lang lewensduur het nie weens die stof wat daarop versamel.
“Matte, gordyne, stoffering en beddegoed verloor ook hul gehalte en lewensduur omdat dit aanhoudend skoongemaak moet word.
“Huishoudings moet deurlopend van tuimeldroërs gebruik maak omdat wasgoed weens die swaar stof nie buite gehang kan word om droog te word nie.
“Sommige inwoners moes selfs duur lugsuiweringstoerusting vir gesondheidsdoeleindes koop om die lug wat hulle inasem, skoon te maak. Die meeste inwoners kan nie hierdie duur toerusting bekostig nie,” het die voorsitter van die Gemeenskappolisieëringsforum (GPF), Maud van Venrooy, laat hoor.

Volgens haar het die gemeenskap se stryd in 2016 begin toe kole-ondernemings na bewering die Forfar-rangeerwerf wat al jare gelede in onbruik was, beset het om kole wat by Palesa in Kwamhlanha in Mpumalanga gemyn word, te berg.
“Van destyds af word die steenkool per spoor na Grootvlei Kragstasie, 228 km verder, vervoer.”
Volgens Van Venrooy is hierdie pad nie die enigste roete na Rayton toe nie, maar wel die kortste pad wat deur die plaas- en plotbewoners gebruik word.
“Die gemeenskap bestaan uit groot plaasboerderye en kleiner plasies en plotte waar bona fide boerderye funksioneer,”het Van Venrooy verduidelik.
Volgens Van Venrooy gaan die steenkool-onderneming se bedrywighede binnekort weer hervat word sodra ’n weegbrug opgerig is.
’n Onderneming wat weegbrûe kalibreer, was reeds Vrydag daar,” het sy gesê.
“As hulle toegelaat word om weer aan te gaan, gaan dit rampspoedige gevolge hê,” het Van Venrooy gesê.




