Een van Secunda se eerste dokters sien uit na sy aftrede
“Wees ’n Christen. Daar is niks belangriker in die lewe nie. En moet nie huiwer om jou teen Covid te laat inent nie. Dis die beste ding om vir jou en jou gesin te doen.”
Ná bykans vyf dedakes as mediese dokter, verruil dr. Wilhelm Mare (73) nou sy stetoskoop vir ’n verfkwas.
“Ek wil baie meer skilder,” het hy dadelik gesê oor hoe hy sy dae na aftrede gaan uitleef.
Hy het aan die einde van Januarie sy spreekkamer vaarwel geroep.
Hy beoog ook om meer tyd in sy tuin op Secunda te bestee en hoop boonop dat hy en sy vrou, Rita, meer kan reis.
Mens kan beswaarlik dink dat hierdie lewenslustige man met sy vinnige kiertsregop stappie reeds nader aan 74 staan en dat hy nie meer in die gange van die mediese sentrum op Secunda gesien gaan word nie.
Dr. Mare was een van die eerste dokters wat met Secunda se ontstaan hiér kom werk het.
Hy en sy vennote in Vanderbijlpark het destyds op aanmoediging van Sasol op ’n roteerbasis die gebied besoek en die groeiende gemeenskap met mediese hulp bedien.
Dr. Mare was nog jonk getroud toe hy en sy vrou 43 jaar gelede hul op Secunda kom vestig het.
Albei hul kinders, Wilhelm (jnr) en Hilde, is destyds in Evander Hospitaal gebore.
Dr. Mare se eerste spreekkamer was in die Sasol Pensioenfondsgebou in Secunda se middedorp.
Hy het 22 jaar daar gepraktiseer voordat hy saam met ’n paar ander dokters die mediese sentrum waarin die Secunda Daghospitaal was, laat bou het.
Hy en dr. Johan Jacobs het as assosiate saam in die nuwe spreekkamers in die nuwe gebou ingetrek en het hier vir nog 22 jaar gepraktiseer.
Hoewel dr. Mare se spreekkamer nou deur ’n oogspesialis gebruik gaan word, sal dr. Jacobs se spreekkamer onveranderd bly.
Die Mare-egpaar is vandag al grootouers van Eduard (11) en Layla (10).
Hul oudste kleinkind, Megan, het 11 jaar gelede op tweejarige ouderdom verdrink.
“Dit is ’n seer wat jy vir niemand kan beskryf nie. Veral wanneer jy sien hoe seer jou kind het en jy dit nie kan regdokter nie,” het dr. Mare gesê.
Die kleinkinders is deels rede hoekom die Mare-egpaar nie maklik Secunda vir altyd sal verlaat nie.
“’n Mens kan mos nie ’n ouma van haar kleinkinders wegneem nie,” het dr. Mare geskerts.
Hy sien self daarna uit om meer tyd met sy kleinkinders te bestee en hoop om hulle te leer hoe om te ski.
Hy is immers ’n ervare skiër danksy hul jaarlikse vakansies in België vanwaar sy vrou afstam en hulle ook Belgiese burgerskap geniet.
Hy vertel graag dat die kans om in België ’n kranslegging vir Suid-Afrikaanse soldate te doen tydens die 100 jaar-herdenking van die Eerste Wêreldoorlog, vir hom ’n geweldige eer was.
Die Mares gaan graag in die winter België toe en geniet dit om Europa te verken.
Hoewel dr. Mare nie vlot Vlaams kan praat nie, het die twee jaar op laerskool waar hy in Duits moes skoolgaan, die grondslag gelê sodat hy vandag gemaklik met Europiërs kan kommunikeer.
En indien die reis, skilder, ski, en moontlik weer gholfspeel nie genoeg gaan wees om sy dae te vul nie, beoog dr. Mare nog om sy lysie van voëls wat hy al gesien het, aan te vul.
Hy is ’n ywerige voëlkyker en het al 560 voëls op sy kerfstok.
Dr. Mare het die gemeenskap en sy pasiënte vir hul ondersteuning deur die jare en vertroue in hom as hul dokter, bedank.
Hy is onwrikbaar in sy geloof dat God die middelpunt van ’n mens se lewe moet wees as jy ’n goeie arts wil wees.
Sy afskeidsboodskap is tweeledig: “Wees ’n Christen. Daar is niks belangriker in die lewe nie.
“En moet nie huiwer om jou teen Covid te laat inent nie. Dis die beste ding om vir jou en jou gesin te doen.”



