Delmas VLU-vroue is vol ywer vir 2022
Die Delmas VLU-tak vroue sien in besonder uit na ’n kreatiewe, maar ook leersame jaar wat voorlê.
Lede van die Delmas Vroue Landbou Unie (VLU) het 2020 vol ywer afgeskop.
Tydens die VLU se eerste vergadering op Dinsdag, 18 Januarie het die vroue by die Flora Hill-koffiewinkel in Brakpan gekuier.
Volgens die voorsitter, Marié Terblanche, was die lede opgewonde om mekaar weer te sien en was die atmosfeer gesellig.
Tydens die vergadering was die jaarprogram bespreek en afgehandel.
Marié het gesê ’n verskeidenheid interessante werksklasse word beplan.
Dié klasse sluit in appliekwerk op vatlappies en ’n tafelloper, olieverf-stillewe, ’n hekelwerksklas by ’n wolwinkel, brandskilderwerk, vryehand-masjienborduurwerk wat insluit ‘leer jou masjien ken’, ’n breiklas, en gegote hars ‘coasters’.
’n Spreker wat die vroue oor die installering van sonkrag sal kom toespreek, is ook deel van die jaar se beplanning.
“Ons beplan ook ’n landbou-uitstappie en ’n boomplantdag,” het Marié laat hoor.
Na afloop van die formaliteite het Belinda Duvenhage die vroue in die kuns van macrame touwys gemaak.
Elkeen het ook ’n nuttige artikel gemaak om die klerekas te laat lekker ruik.
“Die Delmas VLU-tak vroue sien in besonder uit na ’n kreatiewe, maar ook leersame jaar wat voorlê.”
Vergaderings vind elke derde Dinsdagoggend van die maand plaas en Marié moedig vroue wat belangstel om by die Delmas VLU-tak aan te sluit, om haar by 083 968 2203 te kontak.





