Jean Bezuidenhout van Secunda maak ramshorings
Die proses om ’n ramshoring te maak neem sowat ’n week.
Jean Bezuidenhout maak ramshorings vir ’n lewe en as ’n stokperdjie.
Hy het self sy eerste ramshoring so paar jaar gelede gekoop by ’n vrou in Pretoria, nadat hy in die Bybel gelees het van ramshorings en besluit het hy wil ook een besit en op dit blaas.
Sy swaer het vir hom ’n bok-trofee gegee en hy het dit gebruik om sy eerste ramshoring te maak.
“Ek het gekyk na die ramshoring wat ek gehoop het en hoe dit gemaak is en dit ook so gedoen,” het Bezuidenhout gesê.
Sedertdien maak hy gereeld ramshorings en stuur dit per koerier regoor Suid-Afrika as mense by hom bestel op sy Facebook-blad, Q’desh Shofars.
Bezuidenhout was op Secunda en ook in die Laeveld op skool.
Hy het ná skool eers as ’n operateur en later as ’n takelaar-assistent en veiligheidsoffisier op Sasol gewerk voordat hy dit verruil het om voltyds in die familie-onderneming te werk.
Bezuidenhout se familie besit ’n herwinningsonderneming op Secunda en hy werk nou voltyds daar as hy nie ramshorings maak of tyd met sy vier kinders bestee nie.

Die proses om ’n ramshoring te maak, neem Bezuidenhout so ses dae.
“Ek koop die horings rou of soms gee mense dit vir my, maar dan het daardie horings soms vir jare in die son gelê êrens op ’n plaas,” het Bezuidenhout gesê.
“Ek moet dit dan eers kook om die vleis uit te kry. Soms moet ek dit vir tot drie dae kook om alles uit te kry.
“Dan begin die proses om die verhouding tussen die mondstuk en die punt reg te kry.
“Dit is nogal ’n arbeidsintensiewe proses om die ramshorings te maak.”
Dit neem Bezuidenhout dan so twee tot drie dae om die ramshoring verder te verwerk en te skuur totdat dit soos ’n produk lyk wat hy kan verkoop.
“Ek skuur die horings ook blink, maar ek skuur nie al die knoppe heeltemal af soos wat baie mense maak nie, want ek glo dit moet steeds karakter behou en lyk soos wat Vader dit gemaak het met al die knoppe.”
Bezuidenhout glo om die ramshorings te maak, is om ’n diens aan sy medemens te lewer.



