Bronkhorstspruit se Reinhardt Ludwig is nou amptelik ’n Bul
“Moet nooit dink die droom is te groot nie. Wees geduldig. Jou kans sal kom.”
Reinhardt Ludwig (19) van Bronkhorstspruit het op Saterdag, 22 Januarie trots as ’n Vodacom Bulls-speler teen die Stormers op Loftus Versveld uitgedraf.
Die oomblik was groot en vol afwagting. Hy was opgewonde, maar tog ook senuweeagtig.
“Ek het baie bevoorreg gevoel om my eerste wedstryd vir die Blou Bulle te speel. Dit is ’n eer om op dié ouderdom die kans te kry om die Unie te kan verteenwoordig.
“Dit was een van my groot drome toe ek ’n klein seuntjie was om die blou trui oor my kop te trek.”
Nie net is sy droom bewaarheid nie, maar as nuweling het hy ook saam met vier Springbokke na wie hy al jare opkyk, gespeel.
“Om saam met Bismarck du Plessis, Marcell Coetzee, Morné Steyn en Arno Botha in dieselfde span te wees, is baie spesiaal vir my.”
Hoewel die span nie die wedstryd gewen het nie, beskryf Ludwig die karakter wat dié dag op die veld geheers het as spangees.
“Die wedstryd het nie heeltemal verloop soos wat ’n mens gehoop het nie, maar om deel van die veggees te wees en om in ’n moeilike tyd net saam te staan, was vir my lekker gewees. Mens is
deel van die geveg en gee nie op nie.”
Ludwig kan egter nie net een mentor uitsonder ni omdat hy oor die afgelope jaar by elke individu in die span iets geleer het.
“Dit was vir my lekker dat elkeen van jou ’n beter speler en mens maak.”
Hy was verlede jaar saam met die span op toer waar hy sommige wedstryde agter die skerms deurgebring het.
Daar het hy aanskou hoe die spandinamika werk en al die aspekte van speler wees.
“Dit het my gehelp met my voorbereiding vir die wedstryd. Ek het min of meer geweet wat om te verwag.”
Hy was ook die goue geleentheid gebied om saam na die Verenigde-rugbykampioenskap (VRK) te gaan.
“Daar het ek besef dat mens ’n droom en ’n doel voor oë moet hê en daarvoor moet werk.”
Wanneer Ludwig nie rugby speel nie, bestudeer hy wedstryde.
Dus het hy die teenstanders opgesom met aanloop na die wedstryd. Daarna op die dag was weke se harde werk en oefening net uitgevoer.
“Dit gee mens kalmte op die veld.”
Sy posisie is ook nou flank waar hy voorheen as hoërskoolseun slot gespeel het.
Volgens Ludwig, kry ’n mens ’n ander persepsie van die wedstryd in die nommer 7-trui.
“Jy sien dinge uit ’n ander oogpunt. Solank ek ’n bydrae vir die span kan lewer, pla die posisie nie regtig veel nie.”



