Cultura Park se rioollek is buite beheer
“Is riool in ons drinkwater nie erg genoeg nie?”
Inwoners van Verster Park, Bronkhorstspruit, kla dat rou riool vir meer as 20 jaar gereeld vanaf Cultura Park uitlek en soms ook direk in die Bronkhorstspruitrivier inloop.
Die inwoners van hierdie buurt meld gereeld die probleem by die owerhede aan uit vrees dat die riool hulle ondergrondse water sal besoedel.
Die riool hou ’n groot bedreiging in vir die boorgate in Besterpark, omdat dié woonbuurt laer geleë is.
Tans is daar ’n lekkasie in Cultura Park waar die riool reeds vir meer as agt maande uitloop, maar die klagtes van die inwoners val op dowe ore.
Die oorsaak van die probleem lê glo by die hoofafvoerpyp wat tydens die ontwikkeling van Cultura Park gelê is.
Na wat verneem word, is dié pyp veels te dun vir die hoeveelheid riool wat daarin moet vloei, wat tot gevolg het dat die pyp gereeld verstop en miljoene liters rou riool uitloop.
Die pyplyn loop vanaf Cultura Park, onder Cathiestraat deur, langs Verster Park verby en later onderdeur die N4-snelweg.
Rioollekkasies in Verster Park en Cultura Park is in Julie 2021 en ’n aantal kere daarna by die Tshwane Munisipaliteit se departement van water en sanitasie en die handhawingstak aangemeld.
Jan de Klerk en Fasie Smit, twee van die iwoners wat al jare hierteen baklei, het verlede week die lekplekke aan die handhawingstak gewys.
Hulle het ook die plekke uitgewys waar die riool in die Bronkhorstspruitrivier inloop wanneer daar swaar reën val.
Dit is ’n voortdurende probleem en die riool vloei van die gronddam in Cultura Park af na die rivier, of as dit in die droëseisoen is, sal dit in die grond insypel.
“Ek en verskeie mense in Verster Park het dit aangemeld maar dit word beslis geïgnoreer,” het De Klerk gesê.
“As daar iemand is wat wil help om dié probleem op te los, moet hulle kontak maak.
“Dit is ’n ernstige omgewingsgevaar en raak nie net Verster Park en die watersuiweringsaanleg nie. Dit kan ook Erasmus- en Besterpark raak omdat daar ’n granietlaag sowat 16m tot 20m onder die aardoppervlak is wat na hierdie voorstede afloop,” het De Klerk verduidelik.
Die inwoners wil weet of hulle weer moet probeer om die munisipaliteit te oortuig om die blokkasie oop te maak en of hulle maar eerder self ’n kontrakteur moet huur.
“Gaan ons regtig wag totdat dit te laat is? Is riool in ons drinkwater nie erg genoeg nie?
“Dit is nou al ’n geruime tyd sedert ek die eerste keer aangemeld het dat die riool in Cultura Park oorloop.
“As jy in Cathiestraat op die N4-snelwegbrug is wat van die dorp af kom, kan jy ’n gronddam vol riool sien.
“Ek hoop dit het nog nie een van ons boorgate bereik nie, maar glo my, as dit eers by ons boorgate uitkom, sal dit te laat wees. Dit sal onomkeerbaar wees.” het De Klerk gesê.



