Rayton is gereeld sonder krag
“Dan is dit die een minisub wat ontplof, dan is dit kabels wat brand, maar daar is nooit enige permanente oplossing nie.”
“Die oplossings lyk of dit lap en las is, want nie lank nie dan is die krag weer af.”
Só meen Logan Venter, ’n inwoner van Rayton.
Hy woon al 20 jaar op dié dorp en sy frustrasie is diep gewortel.
Die inwoners van die plaaslike gemeenskap sukkel nou al van 28 Desember af met aanhoudende kragprobleme wat nou stelselmatig tot op ’n punt gekom het.
“Die krag sou miskien voorheen een keer ’n maand vir ’n rukkie af gewees het, maar nou is dit minstens twee keer ’n week vir sowat drie ure op ’n slag en dit is met ’n goeie week. As dit sleg gaan, gebeur die kragonderbrekings so vyf keer ’n week, en die uiterse is dat die krag vir twee dae kan af wees,” het Venter laat hoor.
Volgens hom was daar selfs ’n keer toe die kragdrade bo op die paal om die hoek van sy huis aan die brand geslaan het.
“Ek het al die stadsraad menigmaal gebel en gekla oor die krag wat so gedurig af is. Ek het ook op sosiale media gekla, maar ’n mens kry geen reaksie nie.
“Onlangs het dit egter te erg begin raak en ek het toe ons raadslid ook begin kontak. Die raadslid het my verwittig dat daar vir hom gesê is dat die probleme aan Eskom se kant lê en ek weet hy was vas oortuig hiervan, want hy het tot met een van Eskom se verteenwoordigers kontak gemaak om uitklaring te kry.”
Die Eskom-verteenwoordiger is ’n kollega van ’n familielid.
“Die familielid het my toe ingelig dat hy met die kollega ’n gesprek gehad het en dat hy weet die probleem nie aan Eskom se kant is nie, omdat dit infrastruktuur binne in die dorp is wat kort-kort breek.
“Eskom is nie verantwoordelik vir die minisubs en infrastruktuur in die dorp nie. Dit is dan duidelik dat die munisipaliteit net vinger wou wys en nie self verantwoordelikheid aanvaar vir die dorp se kragprobleme nie.”
Jenny de Waal wat al 12 jaar op Rayton woon is nou ook keelvol vir die kragonderbrekings.
Sy bedryf ’n makelaarsfirma en werk nes Venter, van die huis af.
“Die hele situasie is baie frustrerend en dit veroorsaak dat ons die kersie aan altwee kante moet brand, soms met nog een op die tafel, net om ons werk gedoen te kry.
“Dan betaal mens ook maandeliks vir dinge soos internet, maar jy kan dit nie gebruik nie, want daar is nie krag nie.
“So, ons betaal nou maar nog ekstra vir data op die LTE netwerke.” het Venter veruidelik.
Die kragprobleem op Rayton gaan nou reeds vir etlike jare aan, veral wanneer daar storms is, die wind waai of na beurtkrag.
Die inwoners kla dat hulle die afgelope maand deur daaglikse kragonderbrekings van etlike ure geteister word.
“Geen waarskuwings hoegenaamd nie. Ons is besig op ons rekenaars en in programme en skielik is die krag af wat groot probleme veroorsaak en ons toerusting beskadig. Jy kan gedurende daardie ure geen diens aan jou kliënte lewer nie.” het De Waal laat hoor.
Verder word elektroniese toestelle in die huise beskadig deur die aan en afgaan van die krag.
“Voor jy jou rekenaars en ander elektroniese toestelle kan afskakel en uitprop, gaan die krag weer aan en dan weer af. Ons was die afgelope naweek vir 30 ure sonder krag.
“Dit veroorsaak dat goed vrot in jou yskas en vleis afgaan en weggegooi moet word. Verder het jy ongerief van kosmaak, warm water, selfone wat pap is, ens.”
Die probleem lê na wat verneem word by verouderde substasies, kabels en toerusting wat verder deur beurtkrag beskadig word.
Daar is ook mense in die gemeenskap wat afhanklik is van suurstof en het krag nodig vir suurstoftenks.
“Ons waardeer die werk deur ons GPF en ons raadslid JB Bekker, wat baie moeite doen om ons ingelig te hou. Mense raak hoogsgefrustreerd met die kragprobleme op Rayton, asook JB wat deur die nag saam met die span technici deurbring om ons op hoogte te hou.” het ablei inwoners laat hoor.
Die effek van hierdie kragonderbrekings is nie net op persoonlike vlak nie, maar ook op die dorp se sosiale vlak duidelik.
Op dorpsvlak is daar gereeld geskille op sosiale media en sommige mense meen daar moet die positief in elke situasie gesien word, maar ander voel dis belaglik.
“Dit maak dat mense wat eintlike saam moet staan nou teen mekaar draai en die arme admins is in die middel en probeer net inligting deurgee soos hulle dit kry.
“Daar is mense wat nie besef die administrateurs van die sosiale media-groepe werk nie vir die stadsraad nie.” het Venter afgesluit.



