Vrou van Delmas wat op stompie inkopies doen, kry ’n rolstoel
Bekende weldoeners vanuit die gemeenskap en eienaars van Delmas Coutry Lodge, Cobus en Heleen Human, het die skenking van die rolstoel vir Gogo moontlik gemaak.
Die onbekende vrou van Delmas wat op haar stompies haar SASSA-pensioen gaan trek en inkopies gedoen het, het nou ’n rolstoel.
Vroeg in Januarie vanjaar het die bestuurder van Spar in Delmas, Sonja Bothma ’n plasing op Delmas gesels se FB-blad geplaas en dit het gelees:
“Naand almal, ek het vandag ’n baie hartseer ding gesien. Die gogo loop op knieë omdat sy altwee haar bene onder die knie verloor het. So het sy in die dorp rondgeloop en haar maandelikse inkopies gedoen. Is daar dalk iemand wat ’n rolstoel kan skenk asseblief. Hierdie ou gogo is al vir baie jare in Delmas en ek ken haar vandat ek ’n jong vrou is. Dit is so hartseer om haar so te sien, maar tog so dapper op haar twee stompies.”
Bothma is al vir die afgelope 17 jaar by Spar in Delmas werksaam.
Sy het oral na Gogo gesoek.
“Ek het op elke moontlike groep uitgereik en boodskappe geplaas, maar niemand kon my help om haar op te spoor nie. Ek het net bevestiging gekry dat sy op ’n plaas woon.”
Bothma was verlede week met Bybelstudie besig en het ernstig gebid dat die Here haar asseblief sal help om vir Gogo te vind.
Toe kom die oproep van die Willowbrooke Square in Delmas.
“Dit was ’n vrou wat gebel het om my mee te deel dat hulle seker is dat hulle vir Gogo by Pick n Pay gesien het. Die vrou wat haar by die sentrum raakgesien het, is blykbaar ’n werknemer by ons plaaslike munisipaliteit.
“Ná oor en weer besprekings kon Gogo bevestig dat sy in Januarie by Spar was.
“Ek was baie opgewonde en het daarop aangedring om vir Gogo te sien, ek wou doodseker maak dat dit wel sy is. Ek werk al so lank by Spar en ken my kliënte se gesigte. Die gesig en vrou voor my wás toe waarlik Gogo.”
Dit het toe ook aan die lig gekom dat Gogo net een van haar voete verloor het.
“Sy het verlede maand ’n rok aangehad en dit het gelyk of sy albei haar voete verloor het, maar ek is net so dankbaar vir die gemeenskap se omgee,” het Bothma verder gesê.
Daar was reëlings getref en op Vrydag, 4 Februarie het die blye dag aangebreek en was Gogo se rolstoel aan haar oorhandig.
Bekende weldoeners vanuit die gemeenskap en eienaars van Delmas Coutry Lodge, Cobus en Heleen Human, het die skenking van die rolstoel vir Gogo moontlik gemaak.
Bothma se opvolg boodskappie op Facebook het menige inwoners ’n traan laat pik:
“Ek moet dit net vandag met julle deel, ons het haar (Gogo) gekry. Báie dankie aan Cobus en Heleen Human wat dit moontlik gemaak het, vir al die mense daarbuite wat gehelp het om na haar te soek. Alle eer aan God ons Vader, sonder Sy werke, sou ons dit nie kon doen.”
Op die vraag, wat Gogo se naam dan nou eintlik is, het Bothma laggend geantwoord: “Ek weet nog steeds nie, ek was so opgewonde toe sy na meer as ’n maand opgespoor word, dat ek skoon vergeet het om te vra.”






