Gemmer en heuning in die kollig by Delmas-VLU
Die herfsskool wat in Mei plaasvind asook die opkomende kongres in September was hoog op die agenda.
Die Vroue Landbou Unie (VLU) het jaarliks ’n produk waarop hulle fokus.
Gemmer en heuning is die produkte wat vanjaar in die kollig is.
Volgens die Delmas-tak vorm dit deel van ’n volwasse opvoedings- en verrykingstaak en het dit ten doel om kennis te verbreed.
Lede het op Dinsdag, 15 Februarie die maandelikse vergadering in die saal van die Hervormde Kerk op Delmas bygewoon.
Jané Oosterhuis het ’n alom-beskrywende plakkaat rondom heuning en gemmer vir die vergadering voorberei.
Daarbý het sy die vroue van die Delmas-tak met ’n heerlike heuningkoek verras.

Marié Terblanché, voorsitter van die Delmas VLU-tak, het die lede ingelig rondom die mini-skou wat vir Maart beplan word.
Kompetisie-items sluit in biscotti, appelspeserykoek, sjokolade-hopies, mosterdsous, asook ’n stel appliekwerk-vatlappies.
Op streekvlak was die pas-afgelope streekvergadering wat deur sommige lede van Delmas-tak bygewoon is, bespreek.
Die herfsskool wat in Mei plaasvind en die opkomende kongres in September was hoog op die agenda.
As gasspreker het Ria van der Hoff die Anique-produkte se Rescue-reeks aan die vroue voorgestel.
“Ria het vir ons verduidelik dat rooibosekstrak die produk se beste bate is.
“Dit bevat onder meer ’n kragtige anti-oksidant. Dit is juis dié antioksidante wat genesing en herstel van velprobleme, spierpyne, asemhalingsprobleme en vele meer, bevorder,” het Magriet Swart, skakelbeampte vir die Delmas VLU-tak, gesê.

Tydens ’n gelukkige trekking het Carin Uys met die prys van ’n Rescue-geskenkpakkie weggestap.
Soos dit die vlytige vroue van die VLU betaam, is daar na die vergadering ’n nuttige werksklas aangebied.
Terblanché het ’n noukeurige aanbieding rondom die maak van appliekwerk-vatlappies, volgens VLU-standaarde, gedoen.
“Onder Marié se bekwame leiding kon van beginner tot bedrewe naaldwerkster, hierby baat,” het Swart bygevoeg.
Die Delmas VLU-tak het ook weer ’n vriendelike uitnodiging aan alle belangstellende vroue vanaf 18-jarige ouderdom gerig om by die tak aan te sluit.
“Kom gerus en smaak die bevrediging van kreatiwiteit en leersaamheid op ’n gesellige wyse.”
Om meer uit te vind, kan Terblanché by 083 968 2203, geskakel word.



