Local newsNews

Pikkie Petzer by sy huis op Standerton oorlede

By meer as een geleentheid het hy Kersvader by kleuterskole gespeel, aan potjiekoskompetisies deelgneem en vleis by atletiekbyeenkomste van Laerskool Kalie de Haas gebraai.

Oom Pikkie Petzer (78) het op Woensdagoggend 23 Februarie sy stryd teen prostaatkanker verloor.

Die kanker het na die res van sy liggaam versprei en hoewel hy twee keer in die hospitaal opgeneem is, is hy in sy huis oorlede.

“Ek is dankbaar dat ek sy laaste lewensdae met hom kon deurbring,” het tannie Ria gesê.

Wyle Pikkie Petzer, of Dawid soos sommige in die familie hom genoem het, het vir 42 jaar by Toga Linings as elektrisiën gewerk.

Die Petzers is in 1970 op Standerton getroud en twee dogters, Enza en Carien, is uit die huwelik gebore.

As sportman het Pikkie hom veral onderskei in hengel en het destyds Suidoos-Transvaalkleure verwerf.

“Hy het hordes visstokke, katrolle en dips gehad,” het tannie Ria vertel.

Marianne Erasmus van Meyerville Hengelklub het hom as vriendelik, behulpsaam en liefdevol beskryf.

Dié klub is in 1970 gestig en oom Pikkie was ’n ere-lid.

“Hy wou net altyd by die viswater uitkom,” het Marianne gesê.

“Ons gaan hom verskriklik mis.”

Hy het op sy dag ’n trofee vir ’n monstermodderbek ontvang.

Tannie Ria kon nie naastenby onthou hoeveel vis sy al gaargemaak het nie, met geelvis wat die gunsteling was.

Rugby en sokker was ook nie bo sy vuurmaakplek nie.

Hy het as vleuel, skrumskakel en senter vir Standerton Rugbyklub uitgedraf, tot op die ouderdom van 35 jaar, en sy week deeglik beplan.

Dinsdae en Donderdae is vir rugby opsygesit en Maandae, Woensdae en Sondae vir sokker, saam met die Italianers op die dorp.

In die weermag, het Pikkie Petzer bo-op die kanon gesit omdat hy so klein was en dan het die troepe hom beweeg.

By meer as een geleentheid het hy Kersvader by kleuterskole gespeel, aan potjiekoskompetisies deelgneem en vleis by atletiekbyeenkomste van Laerskool Kalie de Haas gebraai.

Sy meelewendheid word onderstreep deur die 213 eenhede bloed wat geskenk is.

“Hy was in geweldige pyn, maar het tot op die laaste gesê dit gaan goed,” het tannie Ria mee afgesluit.

Oom Pikkie word oorleef deur sy eggenoot, dogters, skoonseun Ockie en kleinkinders, Sabrina, Marthinus, Daleen, Jaco, Duané en Anneke.

Die roudiens het op Maandag 28 Februarie om 11:00 in die N.G. Kerk se Suidgemeente plaasgevind.

Oom Pikkie Petzer is in die ouderdom van 78 oorlede. (Foto: Verskaf)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button