Delmas Polisie reik uit na lede vanuit alle veiligheidsoorde tydens liefdesmaand
Verskeie sprekers het die gaste toegespreek met opvoedkundige- sowel as motiveringspraatjies om sodoende die manne en vroue in diens in staat te stel om die publiek met die nodige liefde en ondersteuning by te staan.
Tydens ’n oggend van gesellige samesyn het die Delmas Polisie ’n boodskap van liefde en motivering oorgedra.
Die Delmas Polisie het na lede vanuit alle veiligheidsoorde uitgereik en op Woensdag, 16 Februarie het afgevaardigdes dié geleentheid by die Delmas Polisiestasie bygewoon.
Onder die afgevaardigdes was verteenwoordigers vanuit verskillende veiligheidsmagte van Delmas, onder andere munisipale- en provinsiale verkeersbeamptes, die GPF, die AfriForum Buurtwag, pastore en ander plaaslike organsiasies wat dit ten doel het om misdaad te bestry.

Die byeenkoms is gehou om ampsdraers vanuit die verskillende veiligheidsektore in ’n atmosfeer van gemoedelikheid bymekaar te bring.
Past. Nozipho Maqaze het aan die gaste voorgehou dat die geleentheid aan die begin van die jaar gehou word om vir die res van 2022 te dien.
Verskeie sprekers het hierna die gaste toegespreek met opvoedkundige- sowel as motiveringspraatjies om sodoende die mans en vroue in diens in staat te stel om die publiek met die nodige liefde en ondersteuning by te staan.
Lede was egter ook gemaan om met wysheid na hulle eie welstand om te sien en spanning sinvol te hanteer.

Die stasiebevelvoerder, kol. Sipho Sithole, het die formele verrigtinge afgesluit met ’n maning dat lede die gemeenskap met liefde en begrip binne ’n opersionele militaristiese omgewing moet bedien.
Na afloop van die formaliteite was die oggend met gemoedelike samesyn rondom die braaivleisvuur afgesluit.




