VLU se Van Riebeecktak op Bronkhorstspruit vier sewentigste verjaarsdag
Gasvroue het sover moontlik hul tafels se tyd uitgebeeld met die klere wat hulle gedra het.
Lede van die Vroue Landbou Unie (VLU) se Van Riebeecktak was 14 Februarie al vroeg aan die werk om voor te berei vir die verjaarsdagvieringe.
Die tafels was gedek met elkeen wat ’n ander era verteenwoordig het vanaf 1950 –’59, 1960 -69 en so verder tot by 2010-2020.
Ná ’n paar uur was die saal ’n fees van kleur.

Uniek aan elke tydperk het 10 tafels gepronk en gasvroue se glimlagte was breed.
Gasvroue het sover moontlik hul tafels se tyd uitgebeeld met die klere wat hulle gedra het.
Daar was blomme, kerse, kandelare, veelkleurige tafeldoeke en servette en eetgerei wat pas.
Verhale is op unieke, eietydse klere vasgespeld.

Elke selfgemaakte artikel was ’n storieverteller op sy eie.
Daar was takalbums en foto’s.
’n Asemrowende verjaarsdagkoek gebak deur Meisie Kotze wat by die tema van “Hande” pas, was ’n hoogtepunt.
Die twee vaandels – die oue en die nuwe – is voor in die saal uitgestal.

Heleen Hertzog se skilderye op die verhoog was self ook ’n lus vir die oog.
Die Van Riebeecktak is op 2 Februarie 1952 op die plaas Jakhalsfontein gestig.
“Vandag is ’n geseënde dag in Van Riebeecktak se bestaan.
“Dit is ’n dag om altyd te onthou.

“Ons hartlike dank aan elke eregas, besoekers uit ander takke, voormalige lede, ons eie lede, elke gasvrou, elkeen wat kom deel het in ons vreugde, ver gery het en ou vriendskapsbande weer kon verstewig.
“Dawie de Jager se lieflike sang het ons almal weer eens bekoor,” het Elizabeth Kendall gesê.
“Van Riebeecktak is uniek. Ons grootste dank en eer aan ons Hemelse Vader,” het sy bygevoeg.





