Dr. Louis Bosch wat baie inwoners vir jare met hul troeteldiere vetrou het, sluit sy praktyk, Secunda Dierehospitaal, en verruil Secunda vir Parys.
“Ons het al so drie jaar ’n huis in Parys en wil graag daar aftree,” het dr. Bosch gesê.
Dit is nader en meer sentraal aan van sy kinders en kleinkinders wat daar naby woon en dr. Bosch hoop om dan ’n rustiger leefstyl te handhaaf.
Hy beplan om egter nog afloswerk vir ander veeartse te doen en het reeds navrae vir afloswerk op Vredendal, Sasolburg en Vereeniging gekry.
Sy vennoot van die afgelope drie en ’n half jaar, dr. Corné Viljoen, en sy gesin verhuis na die Wes-Kaap.
Dr. Bosch het in 1987 by die Secunda Dierehospitaal begin werk saam met dr. Gert Moelich en dié twee veeartse het vir 11 jaar saam gewerk totdat dr. Moelich begin boer het.
“Ek het toe vir 20 jaar alleen gewerk totdat Corné by my aangesluit het,” het dr. Bosch gesê.
Nadat hy verlede jaar ’n nier verloor het en al blaaskanker oorwin het, wil hy nou ’n rustiger lewe saam met sy vrou, Lynette, geniet.
“Ek moes afskaal weens my gesondheid en ek wil van my verantwoordelikhede minder maak.”
Dr. Bosch is hartseer om Secunda te groet en het gesê dit is vir hom ’n riem onder die hart om te sien hoeveel mense hom reeds gaan groet het by sy praktyk en voorspoed vir sy toekoms toe gewens het en gesê het hulle gun hom ’n rustiger lewe.
“Secunda was goed vir ons, ons het hier gekom met niks nie, nou laat ons ’n groot familie agter.”
Hy beplan om meer te gaan fietsry en te draf tydens sy aftrede en om steeds ’n besige oupa vir sy kleinkinders te wees.




