Helikopter pik beseerde rugbyspeler by Laerskool Delmas op
Met die ambulans se aankoms was Willem gestabiliseer, maar weens die moontlike ernstige aard van sy besering, is daar besluit om hom per helikopter na die hospitaal te vervoer.
’n Laerskoolleerder, Willem Badenhorst (13,) moes ná ’n rugbybesering per lugambulans na die Netcare Union Hospitaal in Alberton vervoer word.
Laerskool Delmas en Laerskool AG Visser het op 23 Februarie teen mekaar op die A-veld van Laerskool Delmas meegeding.
Tydens dié wedstryd het twee seuns wat vir hul onderskeie skole se tweedespanne uitgedraf het, glo in die hitte van die stryd hard teen mekaar gebots.
“Ek en die outjie het teen hoë spoed in mekaar vasgehardloop. Ek het gevoel hoe my kop en nek ruk en teen my bors vasslaan,” het Willem later gesê.
Volgens toeskouers, het Willem op die grond neergesak.
Baanbeamptes en onderwysers het vir Willem onmiddellik gemaklik gemaak en seker gemaak dat hy nie beweeg nie.
’n Lid van die AfriForum Valke Buurtwag se eerstehulp-span is vir bystand gekontak.
“Met my aankoms op die toneel was Willem stabiel. Hy het gesels en kon vertel wat met hom gebeur het,” het die lid van die eerstehulp-span gesê.
“Die ondersteuning van onderwysers en ouers was ongelooflik.”
Omstanders het die dienste van die plaaslike ambulans ontbied.
Ná 45 minute was die Delmas-ambulans egter steeds nie op die toneel nie.
Daar kon intussen bevestig word dat Willem wel onder ’n mediese fonds dekking geniet.
’n Netcare 911-ambulans is toe na die toneel ontbied.
Willem het intussen van pyn in sy rug en op sy bors begin kla.
Hy was reeds vir meer as ’n uur in dieselfde posisie, plat op sy rug langs die rugbyveld.
Met die bemoediging van albei Willem se ouers, ouer broer en suster, sowel as onderwysers, het Willem deurentyd positief gebly en selfs ’n paar staaltjies met sy ondersteuners gedeel.
Terwyl Willem op die naat van sy rug gelê het, het hy twee bekommernisse gehad.
“Ek gaan nou die proewe mis en dan sal ek nie die seisoen kan speel nie.”
Onderwysers en afrigters het hom egter verseker dat hy moet herstel en hom nie oor sy plek in die span bekommer nie.
“Ek skryf môre Engels,” was Willem se volgende bekommernis.

Weer eens was Willem se bekommernisse deur gerusstellende onderwysers afgemaak.
“Dit was ’n ongeluk, dit was niemand se skuld nie,” het Willem tussendeur laat hoor.
Met die ambulans se aankoms, is Willem gestabiliseer, maar weens die moontlike ernstige aard van sy besering, is daar toe besluit om hom per helikopter na die hospitaal te vervoer.
“Ek wou nog altyd baie graag met ’n helikopter vlieg, maar nie nou nie, nie só nie. Ek is baie bang,” het Willem gesê.
Die Netcare 911-ambulans het op Laerskool Delmas se rugbyveld geland en Willem onder groot belangstelling van omstanders, leerders en onderwysers daarin gelaai.
Met sy aankoms by die hospitaal, is bevind dat Willem ernstige harsingskudding opgedoen het en was daar ’n moontlikheid dat rugwerwels beseer is.
Willem is op die aand van sy besering in hoë sorg opgeneem.
Na ’n skandering is daar egter bevind dat Willem nie rugwerwels beseer het nie.
Die moontlikheid van geskeurde nekspiere was ook ter sprake.
Willem is op Sondag, 27 Februarie uit die hospitaal ontslaan en sterk nou tuis aan.
Sy ma, Diastella Smith, het bevestig dat, danksy die gemeenskap se gebede en die Here se ingrype, het Willem slegs ernstige harsingskudding opgedoen en is daar geringe weefselbesering in sy rug.
“Ek wil net vir die gemeenskap van Delmas báie dankie sê.
“Dankie vir al die gebede en boodskappe van bemoediging. Ek is trots om deel te kan wees van ’n gemeenskap wat soveel omgee in tye van nood,” het Smith Streeknuus meegedeel.
Willem het toe wel sy Engelse toets gemis en sal dalk nie gou weer kan rugby speel nie, en boonop het hy sy helikopterrit onder vreemde omstandighede gehad, maar Willem is nou tuis.



