Rudan Maritz van Rayton beskryf sy Covid-ondervinding in ’n boek
“Die hallusiansies was kristalhelder en ek wou dit so gou moontlik neerskryf om te getuig oor my redding.”
Diamond X Ranch-eienaar, Rudan Maritz, is nou ook ’n skrywer met sy heel eerste boek wat in sagteband en in ’n e-boek beskikbaar is.
Lesers beskryf Covid-19: My oorlewing deur hallusinasies as ’n boek wat jy nie kan neersit nie en wat jou hart in jou keel laat klop.
Volgens Maritz neem hy die lesers op reis om vergelykings te maak van hoe dit moet voel in die agterkop van ’n pasiënt onder sedasie met ’n ventilator wat hallusineer en dit self moet verwerk.
Die boek is binne slegs een maand geskryf.
Maritz het begin skryf in Desember 2021 toe hy uit die rehabilitasie-hospitaal ontslaan is.
“In rehabilitasie het ek die opsomming van die boek stadig maar seker op my selfoon begin tik soos ek meer gebruik van my vingers vermag het.”
Maritz het ook genoem dat sy storie dalk nie uiters uniek is nie, maar in sy opinie publiseer mense nie hulle Covid-ondervindinge nie.
“Ek was nie deurmekaar nie. Ek voel dat elke hallusinasie ’n geveg was wat ek moes wen en so het ek dan in werklikheid my fisiese siekte vir daardie tydperk in die siekbed geveg en oorleef,” het Maritz bygevoeg.
Maritz het vertel dat hy nie werklik vantevore ’n skrywer was nie en dat die lewensreishoofstukke van sy lewe iets is wat hy nooit sou kon voorspel nie.
“Dit was ’n emosionele uitdaging. My hele Covid-ondervindig was traumaties.
“Die skryf van die boek was emosioneel, maar tog genesend omdat ek met die skryf van die boek my siekte weer in diepte ondervind het.
“Wat baie interessant is, is dat van die mense wat die boek gelees, het dit baie emosioneel vind,” het Maritz vertel.
Die boek is egter net 54 bladsye lank en bevat 19 hoofstukke, maar dit getuig van vyf maande se oorlog wat Maritz moes voer en uiteindelik gewen het.
Elke bladsy se woorde is noukeurig neergelê nes Maritz in daardie tydperk voor God neergelê is.
Elke hoofstuk bevat ’n insig wat min mense oorleef om te vertel en al was die woorde ook min, was dié ’n stryd wat sy lewe so handomkeer verander het dat daar sprake van ’n tweede boek is.
“Ek wil graag ’n opvolgboek skryf wat handel oor hoe ek my siekte in die hospitaal en daarna ondervind het. Dit sal natuurlik ’n heelwat dikker boek wees.”
Die uitgewers, Groep 7, het die ontwerp van die boek gedoen.
“Ek het die voorstelling aanvaar. Dit is vir my dramaties en weerspieël dus die inhoud van die boek.”
Die omslag van die boek beeld duidelik die inhoud van die boek uit met ’n man se halwe gesig en verskrikte oog wat oorskadu word met die microskopiese Covid 19-virus.
Slegs sy oë maak oogkontak en sy gesig is bedek met ’n masker wat dui op die stil tydperk waar hy harder gepraat en geskree het as ooit vantevore. Die halfheid van sy gesig dui op die gedeelte van hom wat soms afwesig was waarvoor hy moes veg om te behou en hoe hy die dood in die oë moes staar en keer op keer lewe moes kies.
“My naby-familie is vier keer ingelig dat ek gaan sterf.
“Ek het Covid gekry, maar het ook 13 ernstige en dodelike komplikasies opgedoen.
“Die leser kan dink hoe uitstekend die dokter en sy span moes wees om dié 13 siektes te identifiseer en korrek te behandel,” het hy dankbaar gesê.
Maritz is die eienaar van die Diamond X Cowboy Ranch vir die afgelope 15 jaar en het as perderuiter al die doodskaduwee beleef.
“In 2012 was ek na ’n perde-ongeluk op die Ranch ook in die intensiewe sorg-eenheid onder verdowing. Ek het toe al hallusinasies gehad van hoe om te veg vir oorlewing.
“Ek glo dat God mense op verskillende maniere help om probleme te oorkom.”
“Hierdie boek word opgedra aan elke persoon wat vir my gebid en aan my gedink het. Die susters, dokters (al 15 van hulle) en ander ondersteuningspersoneel wat spesiale stappe moes neem om my te laat oorleef.
“My familie, vrou en kind wat soveel deurgemaak het en vir my gedoen het. My dokter-skoolvriend wat baie vir my kom kuier het, koerante gelees het en die situasie vir almal vergemaklik het.
“Gebedsgroepe, vriende en ander wat soveel vir my beteken en omgegee het.
“Alle eer aan God wat my deur die siektes gedra het en nog planne met my het,” het Maritz afgesluit oor die inspirasie en motivering agter die boek.



