Helena Biermann van Delmas verloor groot in slegs een jaar
“Ek is nie skaam om my gewigsverlies-pad met ander te deel nie. Ek wil hulle help, ek bel gereeld, motiveer en dra mense deur die ongelooflike moeilike pad, want maklik is dit nie maklik nie.”
Helena Biermann, ’n vrou bekend in Delmas-kringe vir haar omgee en hart van goud het deur die jare ’n astronomiese probleem ontwikkel.
Haar gewig het geklim en die skaal op ’n allemintige 254 kg laat wankel.
Volgens Biermann, het die keerpunt gekom toe sy gedurende die Covid-pandemie met asemnood in die hospitaal opgeneem is.
“Die dokter se prognose was angswekkend. Dit was alles vanaf hartversaking en ’n hele klomp ander mediese toestande wat basies beteken het, dat ek op die voorstoep van die dood staan.
“Tydens die Covid-19 inperking was geen besoekers in die hospitaal toegelaat nie en die dokter het aan my man, Desmond, gesê dat hy my moet groet en behoorlik groet, want hy gaan my nie weer sien nie.”
Volgens Biermann was die dokter se woorde hard, maar het dit haar tot insig geruk. Sy het daar en dan besluit om minder te eet.

Biermann was baie siek en kon nie loop of enige iets meer vir haarself doen nie.
Van haar onafhanklikheid en haar motor bestuur was daar geen sprake meer nie.
“Dit was baie moeilik aan die begin, ek was gewoond om groot borde kos te verslind.”
Volgens Biermann, het die dokter ook aan haar ’n inspuiting voorgeskryf, merendeels om haar suikervlakke onder bedwang te bring.
“Wanneer my gesin geëet het, het ek gehuil, want ek was honger.
“My man het my dan gewoonlik kamer toe gestuur.”
Deel van Biermann se sukses aan die begin was ’n glo om ’n kleiner bord te gebruik.
“Dit werk sielkundig. In plaas van ’n leë groot bord, het ek nou ’n vol klein bordjie kos geëet.”
Biermann het verder begin om die stokperdjie ‘Diamond Dots’ op te neem en het dit haar van gedagtes van honger na vergeet om te eet herlei.

Biermann se gewig het met rasse skrede begin afkom, maar ook dit was nie maklik nie.
“Wanneer ek my laat weeg het, was daar tye wat ek so dankbaar was, maar dan was daar ook tye wat ek niks verloor het nie en selfs opgetel het.
“My gesondheid, my man, my kinders en kleinkinders het egter elke keer my gedagtes positief gehou.
“Daar was ook soveel mense vanuit die gemeenskap en my gesin wat my bly motiveer het.”
Tydens Streeknuus se besoek aan Biermann, was dit presies ’n jaar sedert sy haar dieet begin het en kon sy blinkoog haar sukses deel.
“Dit is een jaar later en ek het 85.8kg verloor.
“Om my doelwit te bereik, moet ek nog 24kg verloor en ek is is vasbeslote om dit teen September te bereik.”
Biermann lag wanneer sy na haar opsigtelik te groot klere verwys.
“Ons trek net die rekke stywer in, maar dit het ook al tot baie snaakse voorvalle aanleiding gegee. Onderrokke wat in die openbaar van my lyf afval en vele meer.”
Biermann se uitgesprokenheid oor haar sukses het daartoe gelei dat menige inwoners nou by haar aanklop om raad.
“Ek is nie skaam om my gewigsverlies-pad met ander te deel nie.
“Ek wil hulle help, ek bel gereeld, motiveer en dra mense deur die ongelooflike moeilike pad, want maklik is dit nie maklik nie.
“Aanvanklik is jy honger, baie honger, jou kop hol met jou weg, Jy is depressief, opgewonde, jy huil baie, maar dan kom die beloning wanneer jy besef jy is op die regte pad.
“Jou klere is ewe skielik baie te groot, die skaal en sentimeters motiveer jou en die heel belangrikste is jy voel gesond en energiek.”

Biermann het gesê dat wanneer sy terugdink, kan sy nie glo dat sy soveel kos op een slag kon eet nie. Ek verstom my nou aan die borde kos wat mense inskep.”
Met slegs 24kg om te verloor, is Biermann se grootste wens om wanneer sy haar ideale gewig bereik het, ’n winkel in te stap en klere van ’n rak af te koop.
Nooit ooit weer wil ek gemaakte klere dra nie. En ek wil denims hê, sommer vyf en in elke kleur.”



