Local newsNewsStreeknuus

Plaaskuier-basaar sorg vir groot vermaak op Delmas

Getrou aan Delmas-tradisie was daar ook vars verwerkte vleis en groente vanuit die kontrei te koop aangebied.

Die N.G. Kerk se moedergemeente op Delmas het die gemeenskap met alles wat lekker is en nog vele meer vermaak tydens hul tradisionele kerkbasaar.

Dié Plaaskuier en Proefees het op Saterdag, 5 Maart in die lowergroen tuin van die N.G. Moedergemeente plaasgevind.

Die trompoppies van Laerskool Eloff en Heidi Kleuterskool het met hulle prettige danspassies op die maat van musiek vir groot vermaak gesorg.

Ook Hoërskool Stoffberg se rasieleiers het die basaargangers behoorlik op hul voete gehad met hul pragvertoning.

Besoekers kon in die plaastuin aan al wat ’n tradisionele basaarkos smul.

Daar was heerlike kerrie en rys, worsbroodjies, swarma’s, vetkoek, nagereg en wat sou ’n kerkbasaar dan nou sonder suikersoet pannekoek wees.

Die soettafel het behoorlik gekreun onder die heerlikste tuisgebak en besoekers kon selfs ’n bietjie wynproe doen.

Getrou aan Delmas-tradisie was daar ook vars verwerkte vleis en groente vanuit die kontrei te koop aangebied.

Verskeie uitstallers het hul goedere uitgestal en daar was items om van te kies en te keur vir elkeen se smaak.

Vermaak vir die kleingoed het inkleurkompetisies, treintjie-ry, ’n springkasteel, gesiggie-verf en vele meer ingesluit.

Die basaar het vroegmiddag ten einde geloop en basaargangers het dit eens gehad dat die groot bome en plaaskuier by die Moedergemeente ’n wenner was na die lang droogte tydens die Covid-19-inperking.

Hoërskool Stoffberg se rasieleiers betower besoekers met hulle opvoering.
Gesellige Plaaskuier onder die bome by die N.G. Moedergemeente in Delmas.
Inkleur-pret tydens die Plaaskuier in die N.G. Kerk Moedergemeente op Delmas se tuin.
Die springkasteel sorg vir groot pret vir die kleingoed tydens die N.G. Kerk Moedergemeente se basaar.
Heidi Kleuterskool se trompoppies tree op by die N.G. Moedergemeente se basaar.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button