Omstandighede rondom R42-ongeluk op Delmas is ’n raaisel
“Ons het dringend bystand nodig. Daar lê beseerde mense oral in die pad.”
Twee motors was op Saterdag, 12 Maart in ’n ongeluk op die R42, rigting Botleng betrokke.
Die oorsaak van die vreemde ongeluk wat omstreeks 21:30 plaasgevind het, blyk nog ’n raaisel te wees.
Polisie op die toneel het Streeknuus meegedeel dat ’n motoris glo met sy VW Polo ’n roomkleurige Honda Ballade van agter gestoot het.
Op ’n stadium het die Polo egter in die Honda se agterkant vasgery.

Die bestuurder en die insittendes van die Polo het volgens ooggetuies, kort na die ongeluk van die toneel af weggevlug.
Lede van die Delmas Valke Buurtwag het tydens hulle roetine patrollie inligting omtrent ’n ernstige ongeluk op die R42 vanaf die Botleng teenkapingspan ontvang.
“Ons het dringend bystand nodig. Daar lê beseerde mense oral in die pad,” het die Delmas Valke Buurtwag-lid per radio laat weet.
Nooddienste is onmiddellik na die toneel ontbied.
Drie mans, insluitende die bestuurder van die Honda Ballade, is ernstig beseer.
Hulle het behandeling op die toneel voor hulle per ambulans na die Bernice Samuel Hospitaal op Delmas vervoer is.
Die pad was tussen die N12-oorbrug en R42 / R50 kruising vir verkeer gesluit en lede van die Delmas Valke Buurtwag sowel as die Botleng teenkapingspan het die verkeer beheer.

Die brandweer moes na die toneel ontbied word om van die bloed en ander puin op die R42 ontslae te raak ten einde dit weer veilig vir die gebruik van motoriste te maak.
Nadat die Honda Ballade van die toneel weggesleep is, is die pad omstreeks 23:45 weer vir verkeer oopgestel.
Die oorsaak en vreemde omstandighede rondom die ongeluk was teen druktyd nog ’n raaisel.

Geen terugvoer kon vanaf die Delmas Polisie verkry word nie.
Intussen het ’n lid van die publiek Streeknuus ingelig omtrent ’n erg beskadigde silwer Polo wat op die perseel van die Delmas Polisie staan.
Die voertuig beskik glo ook oor die dieselfde registrasienommer as die een wat van die toneel af wegjaag het.
Dit blyk verder dat, ten spyte van baie sterk polisieteenwoordigheid op die toneel, daar teen druktyd geen nog saak geopen was nie.




