’n Rekenaar staan in die pad van Simon van Delmas se boeke-droom
“Ek stuur my manuskripte na die uitgewers in Kaapstad, maar dit kom elke keer terug. Dit moet getik wees, hulle aanvaar nie my handgeskrewe manuskripte nie.”
Simon Mabena, ’n ou boorling van Delmas, skryf kinderboeke.
Volgens Mabena, is die skrýf daarvan juis die probleem.
“Ek stuur my manuskripte na die Centre for a Book Uitgewers in Kaapstad, maar dit kom elke keer terug. Dit moet getik wees, hulle aanvaar nie my handgeskrewe manuskripte nie.”
Mabena vertel in perfekte Afrikaans dat hy in Delmas grootgeword het en ook in Botleng gematrikuleer het.
“Ek het net een meisiekind, sy woon by haar ouma in die N12-informele nedersetting net buite Delmas.
“My ander twee kinders moes ek ongelukkig op vroeë ouderdom aan die dood afstaan.”
Volgens Mabena skryf hy boeke vir kinders.
“Ek skryf kinderstories in my moedertaal, naamlik isiNdebele.”
Die uitgewers het, volgens Mabena, ook reeds aangedui dat sy boeke goed is en het reeds gehelp met sy skryfstyl deur sekere foute aan hom uit te wys.
“Ek weet wat hulle wil hê, ek moet dit net getik kry.”
“Ek is ’n getroue Streeknuus-leser en het daarin gelees van die gemeenskap wat ’n vrou gehelp het deur vir haar ’n rolstoel te skenk.” (Streeknuus, 11 Februarie uitgawe).
Mabena het glo daarom besluit om ’n brief aan Streeknuus te rig waarin hy sy probleem gedeel het.

“Om Afrikaans of enige taal te leer, is maklik. Met Afrikaans het ek net geleer van teenwoordige tyd, verlede tyd en toekomstige tyd.
“Toe ek dit onder die knie het, was Afrikaans maklik,” het Mabena ewe ongeërg laat hoor.
Terwyl Mabena geduldig wag vir sy droom om bewaarheid te word, doen hy tuinwerk.
“Ek het nie ’n werk nie, daarom doen ek tydelike werkies net om my familie te ondersteun.”
Op ’n vraag aan Mabena dat as hy rekenaar bekom, wie dan vir hom die tikwerk sal doen, was sy antwoord: “Ek sal self, ek sal leer. Ek kan ’n sms op my selfoon tik, hoe moeilik kan dit dan nou wees?”
Vol selfvertroue vertel Mabena verder dat hy sy manuskrip op ’n geheuestokkie (USB-stick) sal laai.
“Daar is mannetjies in Botleng wat internet kafees bedryf, ek sal daar reël dat my manuskripte per e-pos aan my uitgewers gestuur word.
“Met dié dat ons nie eens meer ’n poskantoor op Delmas het nie, is dit in elk geval te duur en moeilik om dit op Sundra te gaan wegstuur.”

Volgens Mabena is hy ’n baie positiewe mens.
Hy dink nie net oor sy droom nie, hy doen en leef sy droom. Al wat egter tussen hom en sy droom staan, is ’n rekenaar.
“Is daar nie dalk êrens daar buite ’n goeie Samaritaan wat my assbebliéf kan help met ’n rekenaar nie,” het Mabena byna pleitend gevra.
Intussen gaan Mabena geduldig voort om op ’n daaglikse basis tuine skoon te maak, bemoedig homself en wag geduldig om sy droom te bewaarheid.
As daardie Samaritaan vir Mabena wil help om sy isiNdebele kinderboeke die lig te laat sien, kan Streeknuus by 082 256 4505 geskakel word.
“Ek glo dit sal iemand vanuit Delmas wees, want Delmas se mense is goed.”
“Die Here sal aan my voorsien, dit is my daaglikse bemoediging aan myself en my vrou. Ek gaan vorentoe, sal nie gaan lê nie en beskou myself daarom as ’n voortrekker.”



