PUK-16-liga stoom voort op eie bodem by Hoërskool Delmas
Dellies se eerste rugbyspan het vir groot opwinding gesorg toe hulle naelskraap met ’n eindtelling van 8-7 vir Stoffberg geklop het.

Dellies se hokkie-, rugby-, netbal- en skaakspanne het weer op eie bodem aan PUK-16-ligawedstryde op hul tuisveld deelgeneem.
Dié keer was dit teen Hoërskool Stoffberg van Brakpan en die byeenkoms het op Vrydag, 4 Maart plaasgevind.
Dellies se eerste rugbyspan het vir groot opwinding gesorg toe hulle naelskraap met ’n eindtelling van agt teenoor die sewe punte van Stoffberg gewen het.
Die res van Dellies se rugbyspanne kon egter nie die mas opkom nie en het al hul wedstryde verloor.
Die netbalspanne het baie goed gevaar en die 0/14-span het met 21-2 gewen, die 0/14B-span het 11-0 gewen, die 0/15A-span 15-7, die 0/15B-span 3-0 en die 0/16A-span het met 15-9 gewen.
Die 0/16B-span het met 10 punte teenoor die 13 van Stoffberg verloor.
Die eerste- en tweede netbalspanne het hul wedstryde met slegs een punt verskil in die eindtellings verloor.
Klipharde hokkiewedstryde het die 0/14-dogters met een doel laat verloor, die 0/15-span het met twee doele teenoor die een doel van Stoffberg gewen.
Die 0/16-span, sowel as die eerstespan, het gelykop gespeel toe albei skole daarin kon slaag om een doel elk op die telbord te plaas. Die tweedespan het met 2 doele teenoor die een van Stoffberg gewen.
Dellies se skaakspan het ook skaakmat geroep toe hulle Stoffberg met 17.5 teenoor die 2.5 van Stoffberg gewen het.