Pampoen Barbie trek skaal op 846kg
Al die pampoen wat in geweeg word skenk ons aan liefdagdigheid en verspreiding onder behoeftige mense.
Die Cullinan Boere-unie jaarlikse Goliat van Gat Pampoenfees wat in 2004 al op die been gebring is, het vanjaar ‘n rekordpampoen opgelewer.
Voormalige wenner Wykus Lamprecht het vanjaar seker gemaak sy pampoen, Barbie, trap diep in haar voorouer, Johanna, verlede jaar se wenner, se voetspore.
“Dit was weer eens ‘n groot verrassing. Ek groei vir die afgelope sewe jaar pampoene. Ek is steeds opgewonde dat Barbie dit gemaak het tot by vanjaar se pampoenskou.
“Barbie het uit haar nate gegroei. Sy het selfs meer geweeg as wat ons geskat het. Ek het weer eens besef solank daar lewe is, is daar hoop,” het Lamprecht laat hoor.
Die vorige seisoen se wenner was ‘n allemintige 790kg, maar met Lamprect se groen vingers het Barbie vanjaar die skaal op 846kg laat kreun.
Johanna en Barbie se pitte het ook anders lyk.

Die pitte was meer verfynd dus het Lamprecht die sêding: “Johanna was rof en onbeskof en Barbie was fyn en klein.”
“Barbie het ook aansienlik stadiger gegroei en ek het gesukkel dat die pampoentjie nou moet spoed vang. Toe ek vir Barbie toelaat om te groei soos sy wil groei, toe sit sy uit. Piepklein Barbie word toe oorgewig Barbie.
“Sy het vir my baie gryshare gegee, maar elke gryshaar is die moeite werd,” het Lamprecht laggend vertel oor waar Barbie haar naam kry nog voordat sy in die grond geplant is.
Mense by die skou wat in Pretoria aangebied is, was in ekstase en het gevra hoe lank groei mens aan só ‘n pampoen en kan mens die pampoen eet?
Drie instansies baat by die kompetisie.
“Die pampoen word die organiseerders se eiendom. Die groot borg die jaar soos elke jaar is Uitkyk Vleimark, dus word Barbie daar vir twee weke op die vloer uitgestal.
Dit word agterna opgesny en aan welsynsorganisasies geskenk,” het Lamprecht verduidelik.
Die saad word geoes, gedroog, verpak en verkoop om sodoende goeie gene te kan versprei en te help om volgende jaar weer ‘n suksesvolle kompetisie aan te bied.

Hoewel dit ‘n moeilike seisoen was, het Lamprecht se agterplaas weer ‘n kampioen opgelewer.
Die span agter Barbie en Johanna staan ook bekend as die agterplaas-pampoenkinders.
“Die reën beïnvloed ongelukkig die vruggroei en verspoel ook al die voeding wat jy vir die plant gee, so vanjaar was uniek met die uitdagings wat op groot groeiers en beginners se skouers gerus het,” het Lamprecht laat hoor.
“Vanjaar met die baie reën was dit mooi sigbaar. Baie ouens het geplant en hulle het nie pampoene gekry nie, want hul pampoene het gevrot van al die baie water,” het organiseerder Henri Combrink bygevoeg.
Die kompetisie het vanjaar 11 inskrywings gelok.
‘n Juniorkompetisie is ook geloods vir kinders onder 16. Die wenners is Ané Smal wat met ‘n pampoen van 89kg gewen het.
Die totale gewig van die pampoen wat op die kompetisie ingeweeg is, is 1950kg.
Sowat 38 stalletjies en Michelle Abreu en orkes het die feesgangers vermaak.
Dit is die eerste jaar waar daar ‘n kompetisie aangbied is onder die vaandel van GPC – Great Pumpkin Commonwealth, ‘n internasionale organisasie wat al die groot pampoenkompetisies koordineer.
Die pampoene wat wen by so kompetisie waar jy geaffillieerd is, kry ook erkening op die wêreldranglys van pampoene as jou pampoen voldoen aan die riglyne en die standaarde.
Cullinan Boere-unie het destyds met Hygrotech hande gevat om iets buite die norm aan te pak en so het die Pampoenfees ontstaan.
“Die hoofdoel was om mense bewus te maak van die uitdagings wat boere, landbouers en voedselprodusente in die oë moet staar ten opigte van die weer en allerdaagse struikelblokke. Ons het ook ‘n liefdadigheidsuitkyk om iets te doen met die pampoen op die ou end van die dag. Ons word elke jaar oorval deur instansies wat vra kan ons nie ook pampoene kry nie,” het organiseerder Henri Combrink oor die agtergrond vertel.
“Mense besluit om een pampoen te kweek en dan sit jy met die uitdaging as jy die pampoen verloor, is jou hele oes weg.”
Alles wat inspeel op die kommersiële boer se produktiwiteit, speel ook net so in op die een pampoen. Dit is al die onkruid, insette en die weer.
“Die fees self was ‘n reuse sukses en het ons verwagtinge oortref. Ons sien uit na volgende jaar,” het Combrink laat hoor.
Lamprecht se eerste pampoen was 119kg en daarna het die pampoen-gogga gebyt.
“Ek wou meer uitvind oor die groente wat so vinnig groei voor jou oë.
“Die kennis, passie en genade het die pampoenstokperdjie net meer en meer gegroei. Elke jaar word dit net lekkerder.
“Die boersaadjie binne jou sê net jy kan nie wag om volgende seisoen weer te plant nie. Ek sal graag almal aanmoedig om dit te probeer,” het hy gesê.



