Plaaslike kunstenaar leer Delmas se VLU-tak die kuns van olieverf
“Al ons vroue het soos wafferse kunstenaars gevoel en kon trots met hulle skilderye huiswaarts keer.”
Die voorsitter van Delmas se VLU-tak kon weer ’n voltallige maandvergadering en verskeie gaste verwelkom.
Gaste en lede was op Dinsdag, 15 Maart opgewonde oor die skilderlesse wat aangebied sou word.
Voordat die skilderlesse egter begin het, moes die formaliteite van die dag se program eers deurgedraf word.
Hierna was dit tyd vir miniskou. Nuwe resepte is getoets en nuwe vaardighede aangeleer.
Lede het ook uitgevind wat die rede is dat ’n koek nie heel uit die pan gelig word nie.
Elsie Bredenkamp het die beoordeling van die miniskou waargeneem. Onder die artikels was vatlappies met appliekwerk, biscotti, gekookte mosterdsous, sjokoladehopies, asook ’n appel-speserykoek wat in die oond gebak moes word.

Met behulp van opbouende kritiek en goeie verduidelikings, is die vroue ook geleer dat sjokoladhopies eintlik as onegalige hopies voorberei moet word.
Elsie het voortgegaan deur te verduidelik presies hoe groot biscotti eintlik behoort te wees.
Die fyn balans wat verkry moet word tussen mosterd, suiker en asyn wanneer mosterdsous gemaak word, is in detail aan die VLU-vroue verduidelik.
Daarna het die lede se vatlappies aan die beurt gekom. Dit is deeglik bestudeer en van hoek tot kant bekyk. “Hier is ons toegelig oor maniere om dit netjies af te rond,” het die skakelbeampte, Magriet Swart, gesê.
Hierna was dit tyd vir ’n verfrissende koppie tee en heerlike eetgoed.
Met dit afgehandel, was dit tyd vir die vroue om nader te staan om die olieverf klasse aan te pak.
Plaaslike kunstenaar, Su-Lize Viljoen het die klasse aangebied.
“Su-Lize het vooraf vir elkeen van ons sketse van opgestapelde koppies voorberei. Sodoende kon ons meer tyd aan die aanleer van tegniek bestee.”
Su-Lize het die vroue ingelig oor die verdunning van olieverf met terpentyn. Die agtergrond is met ’n groot plat kwas aangedurf. Die fynere detail omtrent die kuns van olieverf is hierna gedemonstreer en die vroue het vlytig aan hul olieverfskilderye gewerk.

Met al die gestapelde koppies geverf, het Su-Lize voortgegaan om die kuns van lig en donker te leer, asook die tegniek hoe om ’n teelepel te laat eg lyk en nie net soos ’n plat stuk metaal nie.
“Al ons vroue het soos wafferse kunstenaars gevoel en kon trots met hulle skilderye huiswaarts keer,” het Magriet verder gesê.
Die voorsitter, Marié Terblanche nooi alle belangstellende vroue van die kontrei om by Delmas se VLU-tak aan te sluit.
“Sluit gerus aan en kom verryk jou lewe met opbouende sosialisering,” het Marié laat hoor.
Belangstellendes kan Marié by 083 968 2203 skakel.



