Local newsNewsStreeknuus

Bronkhorstspruiter neem aan Sterstatus deel

“Wees altyd getrou aan jouself want min mense sal getrou wees aan jou.”

Maryka Oosthuizen (22) van Bronkhorstspruit het vanjaar die kans gewaag om vir Sterstatus, ‘n werklikheidsprogram, in te skryf wat bekend is as ‘n bemagtigingsplatvorm vir vroue waar mens kan groei.

“As ‘n tuisbly-mamma en klein sake-eienaar, voel ek soms vasgevang in my eie liggaam, veral omdat daar nie tyd is vir ander goedjies soos vriendinne nie, maar ek het toe besluit om hierdie kans aan te gryp en myself weer te vind en beter te wees,” het Oosthuizen laat hoor.

Haar aanvoeling vir die bedryf is reeds van kindsbeen af deel van wie sy is en nou beoog sy ook om in die toekoms haar eie modelskool te begin.

“Ek het op vyfjarige ouderdom met modelopleiding by Charlene Stander begin. Sy is die mooiste mens met die mooiste hart. Sy het my hanteer soos haar eie dogter,” het Oosthuizen vertel oor die skoonheidskompetisies waaraan sy al deelgeneem het.

Haar verhaal is aangrypend en sy moes veg om te kom waar sy wou wees in die lewe.

Deur haar eie paadjie uit te kerf, sien sy ook die vegtersgees in ander vroue raak en sy sal altyd daardie element in elkeen na vore bring.

Maryka Oosthuizen se glimlag wat die mooi in elkeen raak waardeer. (Foto: Verskaf)

“Ek was tussen die ouderdomme van 12 en 17 in die kinderhuis gewees weens finansiële tekortkomings.

“Ek was veronderstel om net tydelik daar te bly vir ‘n jaar. Ná ‘n jaar was my ma weer stabiel genoeg om vir my te sorg, maar die hof het heeltyd stories gehad.

“Op 17 het ek self besluit ek gaan nie weer terug nie en het my skool klaargemaak in Pretoria by my ma,” het sy vertel oor hoe vroue met haar sal kan vereenselwig.

Haar ma is haar rolmodel.

“Ten spyte van alles wat ek en my ma al deurgemaak het, het sy altyd haarself gebly en altyd haar beste gegee in alles wat sy doen.”

Haar ervaring tot dusver was op die eerste dag van die program vreesaanjaend juis omdat die geleentheid mens uit jou gemaksone uitdaag en veral vir haar nog onbekend is.

“Ek was eerlikwaar nogal bang, want ons het glad nie vooraf geweet wat presies ons gaan doen nie, maar na die eerste dag het ek besef ek moet hierdie avontuur en reis voltooi,” het sy gesê

Sy glo vroue sal hulself in haar kan sien omdat sy opreg lag en ook ‘n seer traan ken.

“Reeds omdat ons almal ‘n storie het, kan ons by mekaar af leer hoe om deur al daardie seer te werk en ek wil hê vroue moet weet dis normaal.”

Oosthuizen wil hierdie platform as basis vir haar vermaaklikheidstalent en droom gebruik, maar sien dit ook as ‘n kans om haar hart en boodskap oor te dra.

“Ek wil graag hê vroue moet weet dat dit reg is om aan jouself te werk, vir jouself en dat elke vrou uniek is. Daar is nie nog ‘n ‘jy’ nie,” het sy vertel.

Maryka Oosthuizen is in haar element voor die kamera. (Foto: Verskaf)

Oor om met die titel weg te stap, het Maryka se spanspeler-menswees weer die praatwerk gedoen.

“Ek is geseënd met al die vriendinne wat ek al van die eerste dag af gemaak het. Ek wens vir almal die titel toe, maar op die ou einde van die dag is daar net een. Volgende jaar is nog ‘n kans en aanhouer wen.”

“In hierdie proses leer hulle ons van sosiale media tot by toneelspel. Ek is seker ek gaan met meer as net dit wegstap.”

Die Bybelvers wat haar motiveer is Jesaja 43:18 en haar leefwyse waarvolgens sy elke dag aanpak, is om nooit ‘n gevangene van die verlede te wees nie. Dit was ‘n les nie ‘n lewensvonnis nie.

Sy staan vir vroue, diere en kinders, veral die mense wat in die samelewing gesien word as stemloos of wie se stemme soms verdoof is.

“Ek staan op vir ‘n vrou se regte om te sê ‘nee’, om weg te stap as sy nie geliefd voel nie sonder skuldgevoelens en veral die woorde ‘SPEAK UP’, asook kinder- en dieremishandeling.”

Oosthuizen se plat-op-die-aarde-geaardheid en persoonlikheid maak haar toeganklik, en al benodig sy ook tyd om te herlaai, voel sy dat die program die spasie vir vroue gun om hul uniekhede te deel en vir ‘n ‘ons’ te staan.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button