Gaste is uitgevat vir Dellies se wynveiling
Geld wat deur middel van die wynveiling ingesamel is, sal vir onderwyshulpmiddele aangewend word.
Die tema vir Hoërskool Delmas se wynveiling vir die jaar 2022 was ‘Phantom of the Opera.’
Die gaste het die tema ernstig opgeneem en was baie deftig vir die geleentheid uitgevat.
Die maskerbal het op Donderdag, 10 Maart by die Delmas Country Lodge plaasgevind.

Hoërskool Delmas bedank graag vir Delmas Country Lodge vir die gebruik van hul geriewe asook die pragtige versiering van die saal.
“Baie dankie ook aan die personeel van Dellies vir die pragtige versiering van die saal,” het Cas Badenhorst, skoolhoof van Hoërskool Delmas gesê.
“Dankie ook aan die beheerliggaam en die verteenwoordigende leerlingraad (VLR) vir uitstekende diens gelewer.”

Rudolf en Annelie Venter was vanjaar verantwoordelik vir die samestelling van die katalogus asook die versameling wyn wat tydens die veiling opgeveil is.
Bennie Labuschagne het as afslaer opgetree en hom goed van sy taak gekwyt.
“Laaste, maar beslis nie die minste nie, dankie aan ons gewaardeerde gaste wat aan die veiling deelgeneem het en sodoende bygedra het dat daar ‘n rekordbedrag ingesamel kon word.”
Geld wat deur middel van die wynveiling ingesamel is, sal vir onderwyshulpmiddele aangewend word.
Volgens Badenhorst word daar onder meer beplan om meer aanskoulike en effektiewe lesaanbiedinge in die klaskamers te bewerkstellig.





