Raaiselagtige R42-ongeluk by Delmas was toe ’n tref-en-trap
Die motoris het glo geen poging aangewend om te stop nie, maar bloot net van die toneel af weggejaag.
’n Ongeluk wat op die R42 op Delmas op 12 Maart plaasgevind het, het baie vrae laat ontstaan.
Die raaisel is egter grootliks opgelos toe ’n verdagte homself aan die Delmas Polisie oorgegee het.
Dié verdagte het dié aand omstreeks 21:30 glo trompop agter in die Honda Ballade op die R42 vasgery waarna hy van die toneel af weggejaag het.
Met die polisie se aankoms op die toneel is drie baie ernstig beseerde mans sowel as ’n erg beskadigde Honda Ballade gevind. (Streeknuus, 18 Maart).
Op die dieselfde aand wat die ongeluk plaasgevind het, het die verdagte Polo-bestuurder homself egter aan die polisie oorgegee en is hy in hegtenis geneem.
Hy het intussen in die hof verskyn en sou teen druktyd weer op Maandag, 29 Maart in die Delmas Streekhof verskyn het.
Die mans het die Honda Ballade wat onklaar geraak het, op die R42 in die rigting van Botleng, gestoot.
Die Polo het glo teen ’n baie hoë spoed reg van agter in die Honda vasgery.
Twee van die beseerde mans is op die toneel deur die polisie na die omstandighede rondom die ongeluk gevra.
Die twee beseerdes het die polisie meegedeel dat hulle die onklaar Honda gestoot het waarna ’n silwer Polo teen hoë teen hulle gebots het.
Volgens ooggetuies op die toneel was hulle te voet naby die Honda en moes self uit die pad spring om te verhoed dat hulle raakgery word.
Die ooggetuies het verder beweer dat die pad nie besig was nie en dat die bestuurder van die Polo dus maklik kon uitgeswaai het.
Hy het na bewering geen poging aangewend om te stop nie, maar bloot net van die toneel af weggejaag.





