Delmas se VLU-divas met diamante vier Carpe Diem-streekskonferensie
“Dit het soos Kersfees in Februarie gevoel.”
Die Delmas-tak van die Vroue Landbou Unie (VLU), tesame met die ses takke van Witbank, vorm die Carpe Diem-streek van Mpumalanga.
Dié takke het op Saterdag, 26 Februarie die Carpe Diem-streek se 21ste konferensie met die tema, Divas en Diamante, gevier.
Ria Roets, Engela Thomson en Cindy Coetzee was uitgevat vir die okkasie in hul beste rokke en skitterblink ‘diamante’.
“Die lede was almal opgewonde om mekaar weer te sien en na ’n oor en weer groetery was elkeen na hulle onderskeie sitplekke begelei,” het Cindy Coetzee, president van SAVLU laat hoor.
“Die tafels was ook feestelik gedek vir die spesiale geleentheid.”
Ds. Maans van Zyl het die verrigtinge geopen met sy spesiale boodskap: “Ons is God se Gedig, ons is Sy Handewerk.”
Tharina Rossel se boodskap, – ‘gaan soek mense aan wie jy ’n verskil kan maak’, was opgevolg deur Karen Oberholzer se eie vertolking van Que Será – ‘kyk na jou, kyk na my, ons het lagplooitjies en haelskade bygekry.’
Daar is verder ook geluister na Suzaan Volschenk-Walsh se skrywersreis, met ’n ode aan Theuns Jordaan.
Hierna het die diensjaartoekennings en prysuitdeling plaasgevind.
“Ek staan opnuut verstom wanneer ek die vroue se pragtige kreatiewe handewerk besigtig,” het Cindy bygevoeg.
Natasha Coetzee van Young Essential Oils het die lede meer geleer van essensiële olies en die vroue het hul eie lugverfrisser gemeng.
Toe was dit tyd vir feesviering en die koek om Carpe Diem se 21se verjaarsdag te vier, is gesny.
Die feesviering is met middagete afgesluit en elkeen kon huiswaarts keer met ’n sak vol geskenke. “Dit het soos Kersfees in Februarie gevoel.”
“Baie geluk en dankie aan Debbie du Plessis en haar bestuur, Lida Posthumus, Martie Vermeulen, Marcelle van Vuuren, Anette Steyn, Belinda Duvenhage en die takvoorsitters vir ’n dag vol bederf, pitkos en gesellige saamkuier. Dit was verseker ’n pienk dag vol borreltjies vreugde om te onthou,” het Cindy afgesluit.



