Local newsNewsStreeknuus

Pearly, Sundra se bekende Franse poedel, se plekkie is nou leeg

“Ek sukkel om te fokus, die kar is leeg sonder haar en by die huis is niks meer dieselfde nie.”

Pearly was baie bekend in Delmas en omgewing as die kiertsregop poedel op die passasiersitplek van die Woefwas Hondesalon se Toyota Venture.

Sarie Claassens,’n inwoner van Sundra is die eienaar van die hondesalon, is op haar beurt baie bekend vir haar liefde en omgee vir diere, maar ook as die eienaar van die hondesalon.

Des te meer is Sarie ’n alombekende gesig in plaaslike kringe in haar bottelgroen Toyota Venture en hondesleepwaentjie met die kenmerkende toeter waarmee sy inwoners se honde-kinders by hul huise kom op- en aflaai.

Voor op die passasiersitplek het daar vir die afgelope paar jaar altyd ’n baie aristokratiese Franse ‘dame’ gesit.

Pearly die poedel, hier nog in lewende lywe. (Foto: Verskaf)

Dié ‘dame’ het meestal effens hoogmoedig voorgekom en het die omgewing vanuit ’n hoogte bekyk. Dié ‘dame’ was Sarie se poedel, Pearly.

Volgens Sarie het sy en haar man, Klaas in 2010 die eienaars van Pearly geword.

“Pearly was maar vier maande oud toe ons haar gekry het,” het Sarie gesê.

“Heel aan die begin is ons deur kenners gewaarsku dat dié poedel-ras jaloerse geaardhede het en ook soms bietjie aggressief kan wees. Ons was dus maar versigtig tussen die ander honde, vriende en kinders, maar het gou besef dat Pearly ’n engel-hond met ’n baie mooi geaardheid was.”

Vandaar was Pearly saam wanneer die wiele gedraai het. Saamgery wanneer hondjies op- en afgelaai was, sy was male sonder tal saam met Sarie en Klaas met vakansie.

“Pearly was selfs met die nodige veeartseny-sertifikate toegelaat om saam met ons na Swaziland te reis en het saam getoer vanaf die Kaap, Durban en wie weet waar. Sy was soos ’n kind in ons huishouding en almal was baie lief vir haar.”

Twee weke na die Claassens se laaste vakansie in Februarie vanjaar, het Pearly siekerig geword.

Na ’n bosluisbyt, het die Claassens geglo dat sy dalk bosluiskoors onder lede kon hê.

Na ’n besoek aan die veearts, was die uitslae egter negatief, daar was geen parasiete nie.

Hier is Pearly op haar geliefkoosde plek, die Woefwas-voertuig se sitplek. (Foto: Verskaf)

“Pearly wou nie meer eet nie en ek het geweet dat sy nie reg is nie, haar tandvleis was ook baie geel,” het Sarie gesê.

Verdere bloedmonsters het aangedui dat Pearly ’n probleem met haat galblaas gehad het.

Dié is tydens ’n operasie verwyder, maar Pearly wou nie gesond word nie.

“Sy het sleg geëet en in haar laaste dae wou sy selfs nie meer water drink nie.”

Tog het Pearly steeds saamgery, maar nou nie meer regop op die passasiersitplek nie, maar lêend met haar kop op Sarie se skoot.

Na vele meer veearts-besoeke en die opsit van drips om te probeer om haar gestel reg te ruk en voeding te gee, het die Claassens teen Vrydag, 8 April

geweet dat iets groot skort.

Teen Sondag, 10 April was Pearly reeds in ’n semi-koma en moes die groot besluit geneem word.

Pearly Poedel. (Foto: Verskaf)

Pearly, die poedel het haar laaste asem met die hulp van genadedood by die veearts op Sondag, 10 April, uitgeblaas.

“Ek sukkel om te fokus, die kar is leeg sonder haar en by die huis is niks meer dieselfde nie. Ek en Klaas voel nie asof ons iéts verloor het nie, maar eerder iémand verloor het.

“Ek hou aan om na Pearly te soek en verwag dat sy enige oomblik om ’n hoek gaan kom, maar Pearly is nie meer daar nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button