Local newsNewsStreeknuus

Delmas herleef aan die hande van ’n groep vrywilligers

“Elke gemeenskap is by magte om ’n verskil in hul eie omgewing te maak deur skouer aan die wiel te sit en saam te staan en saam te werk.”

Die groep, Delmas Herleef, het sy ontstaan in September 2020 gehad.

Ten spyte van die Covid 19-epidemie wat die groep se vrywilligersplanne so ietwat in die wiele gery het, groei die groep vrywilligers steeds van krag tot krag.

Dit is ’n groep wat bestaan uit lede van die gemeenskap wie se gesamentlike doel is om die dorp ’n mooier en beter plek te maak om in te woon.

Hier word slaggate deur vrywilligers vanuit die gemeenskap herstel. (Foto: Verskaf)

Vanuit die staanspoor het Delmas Herleef besluit om hande te vat met verskeie rolspelers vanuit die gemeenskap.

“Ons werk saam met skole, kerke, die boere en ander organisasies te einde ons dorp te verbeter, het dr. Martin van Rensburg, predikant van die Hervormde Kerk in Delmas, asook voorsitter van Delmas Herleef, gesê.

Een van die groep se doelwitte is om uit te reik na die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit en sodoende saam ’n verskil in Delmas te maak.

“Soos in baie ander dorpe in die land word Delmas ook geteister met die euwel van slaggate. Dus is dit een van die projekte wat aandag geniet.”

Oud en jonk werk saam om ’n mooier Delmas te verseker. (Foto: Verskaf)

Ander projekte wat volgens dr. Van Rensburg reeds aandag geniet en waaraan daar steeds gewerk word, is die gereelde optel en verwydering van rommel; die verf van stopstrate; die plant van stoptekens; die verf van padtekens; die aanbring van straatname en die skoonmaak van die Delmas Begraafplaas.

Tuine by die ingange en op die eiland in Sarel Cilliersstraat asook die kruising by Van der Waltstraat is ook aan die vlytige hande van Madel Fourie, in samewerking met die plaaslike munisipaliteit, verfraai.

In antwoord op die vraag waarom Delmas Herleef nou eintlik al hierdie projekte aanpak, verduidelik dr. Van Rensburg, “Delmas Herleef se doel is om van Delmas ’n beter, skoner en mooier plek te maak.

Wanneer die dorp mooier en veilig vertoon vir mense wat van buite af besoek aflê, glo ons sal beleggers ook hier wil besigheid doen. Ons glo ook dat die reeds gevestigde sakeondernemings hul besighede met selfvertroue sal uitbrei.”

Vrywillige werkers vanuit die gemeenskap maak die Delmas Begraafplaas skoon. (Foto: Verskaf)

Volgens hom dra ’n mooi dorp ook by tot die bestryding van armoede, aangesien armoede deur belegging en gepaardgaande werkskepping verlig word.

Die uiteindelike doel van Delmas Herleef is om as ’n voorbeeld vir ander dorpe te dien.

Werkers van die munisipaliteit plant bome by die Samuelweg ingang na Delmas. (Foto: Verskaf)

“’n Voorbeeld van hoe dat kerke, besighede, gemeenskapsleiers asook die plaaslike munisipaliteite kan hande vat om ’n verskil te maak.

“Elke gemeenskap is by magte om ’n verskil in hul eie omgewing te maak deur skouer aan die wiel te sit en saam te staan en saam te werk.”

Die groep beplan om weer op 23 April van die slaggate in Dunbarstraat in Delmas te herstel.

Enigiemand is welkom om hand by te sit en lede vanuit die gemeenskap wat graag by Delmas Herleef wil aansluit, kan dr. Van Rensburg by 083 633 7335 skakel.

Delmas Herleef en die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit verf padtekens en randstene in Delmas. (Foto: Verskaf)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button