Terugploeg is ’n voedselverspreidings- en verwerkingsinisiatief wat ook poog om deur werkskepping en opleiding gemeenskappe op te hef.
Qumi Homes in Rayton se lewens is verryk met 3900kg se kos.
Kairos, ’n tehuis vir haweloses buite Rayton, het ook 500kg kos ontvang en op 6 April het die Terugploeg-span ook Loerie Jeugsentrum in Bronkhorstspruit besoek en sowat 1800kg kos uitgedeel.
Terugploeg word bestuur en geadministreer deur die Atterbury Trust, ’n publieke voordeel-organisasie.
Alle skenkings wat gemaak word aan Terugploeg, kwalifiseer vir ’n Artikel 18A-sertifikaat wat aftrekbaar is vir belastingdoeleindes.
Die impak tot op hede was groot. Daar is 226 ton kos al ingesamel en versprei en 904 980 porsies etes is al verskaf tesame met 64 verskillende organisasies wat Terugploeg ondersteun.
Die uitwerking van die Covid 19-pandemie het baie leemtes in die samelewing blootgestel. Een is die onvermoë van staatsinstellings om voedsel doelmatig aan almal wat dit nodig het te versprei, veral in ons eie gemeenskappe.
Daar is besluit om self iets hieraan te doen.
Terugploeg het in 2020 saam met vriende in die landbou begin om op ’n georganiseerde en verantwoordbare wyse voedsel aan behoeftige Afrikaanse gemeenskappe te lewer.
Die groothartige boere het nie teleurgestel nie. Inteendeel, is die Terugploeg-span oorval met skenkings in tonnemaat.

Vragmotors-vol vars vrugte, groente en wildsvleis is afgelaai en versprei.
Die onmiddellike sukses van Terugploeg het die span groter laat droom en daar is ’n fasiliteit opgerig waar daar nie net oor die langtermyn voedsel effektief versprei kan word nie, maar ook gepoog word om gemeenskappe deur werkverskaffing en opleiding op te hef.
Daar is ook verskeie inisiatiewe wat onderandere die Boersaam-, Voedsaam- en Werksaamprogramme insluit.
Boersaam is ’n befondsingsinisiatief wat op die been gebring word om Terugploeg op die langtermyn volhoubaar te maak.
Deelnemende krale regoor die land waar beeste deur lede van die publiek gekoop kan word, gaan geidentifiseer word.
Die onderskeie beesboere gaan die terugploegkudde as deel van hulle eie kudde bestuur.
Die jaarlikse aanteel sal die span in staat stel om die bulle te verkoop en sodoende inkomste te genereer om Terugploeg se ander inisiatiewe te befonds.
“Jy het nou die geleentheid om Terugploeg te ondersteun deur ’n bees te koop en ons te help om die terugploegkudde regoor Suid-Afrika te vestig,” het finansiële bestuurder, Ananja Koen, laat hoor.
Voedsaam is die kosverspreidingsbeen van Terugploeg.
Kos word aan goedgekeurde organisasies versprei wat dit dan verantwoordelik aan die behoeftige individue beskikbaar stel.
“Jy kan ons ondersteun deur vars vrugte, groente, vleis of nie bederfbare produkte te skenk of ’n finansiële bydrae te maak,” het Koen bygevoeg.
Werksaam is ’n inisiatief waar werksgeleenthede vir werklose individue gefasiliteer word.
Maatskappye wat werksgeleenthede beskikbaar het, kan die Terugploegspan nader en deur hul netwerk van goedgekeurde organisasies kan mense gewerf en aangestel word.
Daar is verder ook werksgeleenthede om op die perseel van die Terugploeg-fasiliteit te werk.
Die hoofdoelwit met Werksaam is om begunstigdes by goedgekeurde organisasies te bemagtig om nie afhanklik te bly van skenkings en donasies nie, maar aan hulle die nodige opleiding en geleenthede te gee om die formele werksmark te betree.
“Ons onmiddellike beplanning is om die vleisverwerkingfasiliteit aan die gang te kry en die nodige opleiding te verskaf om blokmanne op te lei en sodoende behoeftige mense die geleentheid te bied om ’n inkomste te verdien. Ons het ook op 7 April ons eerste Boersaam-kraal in Rustenburg geloods en ons gaan ons eerste verse aankoop om die Terugploegstoet te begin,” het Koen afgesluit.



