Besoekers het by die amptelike Protea Cullifest wat van 30 April tot 2 Mei op Cullinan gehou is, ingestroom.
Daar was meer as 10 000 feesgangers oor dié drie dae.
Met 130 stalletjies op die NG Kerk se feesterrein, was daar ’n verskeidenheid om te kies en keer.
Inwoners het ’n uitsig na hordes proteas gehad, selfs die koning wit, koning rooi en koning pienk proteas is ten toon gestel.
Die biertuin en wyntuin van 15x45m in die markiestent het gehelp om feesgangers se dors te les.
Vanjaar was die 20ste Cullifest ten bate van die gemeenskap-samesyn aangebied.
“Die fees word hoofsaaklik aangebied as ’n heerlike saamkuier-geleentheid,” het organiseerder, Charl Bredell, namens die Cullifest-bestuursspan vertel.
Groot name in die musiekbedryf het gesorg vir ’n vol program van vermaak.
Kunstenaars soos Brendan Peyper, Leah, Juanita du Plessis, Ruan Josh, Franja du Plessis, Dewald Dippenaar en Elizma Theron het die verhoog aan die brand gesing.
Die behoefte vir samekoms in Cullinan was sigbaar en uitstallers het uitgehaal en gewys met unieke produkte en iets vir die oog.
Cullifest het met CHM Hatfield Ford hande gevat vir die logo bemarking by die verhoog en Herotel vir die ‘hotspots’ op die feesterrein.
Die fees het besoekers van so ver as Alberton, Evander, Rustenburg, Modimolle en nog baie ander plekke gehad en die Protea Cullifest het nie teleurgestel nie.









