Local newsNewsStreeknuus

Sharon-Lee van Bronkhorstspruit veg om haar lewe in die hospitaal

Mode-ontwerper (33) teer uit in hospitaal

Sharon-Lee Stander (33), ‘n mode-ontwerper van Bronkhorstspruit, veg tans vir haar lewe in die hospitaal.

Sy is al vir die afgelope 13 jaar bedlêend weens drie siektes wat haar gereeld in die hospitaal laat beland.

Sy kry epileptiese toevalle, het lupus en is met pseudotumor cerebi (PTC) – ‘n toestand wat veroorsaak word deur verhoogde serebrospinale vloeistofdruk in die brein, gediagnoseer.

Sharon-Lee is verlede jaar in Steve Biko Hospitaal opgeneem waar sy ‘n operasie ondergaan het wat haar drie maande in ‘n koma gelaat het.

Van haar derms is toe verwyder omdat dit inwendig septies geraak het.

Sharon-Lee Stander in November verlede jaar. Hier het sy haar ouself gelyk ná ‘n operasie. (Foto: Verskaf)

Sy het aan die begin van Maart ‘n epileptiese toeval gehad en ‘n knop het daarna in die lies van haar regterbobeen gevorm.

“Dit was ‘n harde knop wat versprei het na die bekenbeen,” het haar tante, Anteonet van der Walt, vertel.

Haar linkerbeen het twee keer groter as haar regterbeen opgeswel.

Sharon-Lee is toe in die Unitas Hospitaal opgeneem en is die volgende dag na die Dr. George Mukhari Akademiese Hospitaal in Ga-Rankuwa oorgeplaas waar sy tans versorg word.

Sy het hier gehoor dat die knoppe in haar lies en buik absese is en sy moes weer geopereer word.

Ná dié operasie het sy klebsiella pneumoniae opgedoen -‘n bakterie wat verskeie gesondheidverwante infeksies kan veroorsaak.

“Haar wonde het weens die infeksie groen geraak,” het haar tannie vertel.

Sharol-Lee is nou aan die uitteer.

“Haar wange is ingeduik. Sy weeg sekerlik net 30 kg. Dis net vel en been,” het haar tannie hartseer vertel.

“Ek het hulle ook gevra of hulle nie vir haar aarvoeding kan gee nie, want sy sukkel met haar slukderm,” het haar Van der Walt bygevoeg.

Sharon-Lee Stander op die herstel pad na haar eerste terugslag. (Foto: Verskaf)

Volgens Van der Walt moet Sharon-Lee weer vandeesweek geopereer word om ‘n blaasprobleem wat met die vorige operasie opgedoen is, te herstel.

Sharon-Lee is in ‘n staatshospitaal omdat sy nie mediese dekking vir hospitale het nie, en die versekering wat sy wel het, het net ‘n gedeelte van die stabilisering in Unitas gedek.

Dus is daar nog ‘n groot rekening wat aan dié hospitaal betaal moet word.

Sharon-Lee benodig boonop daagliks medisyne vir haar epilesie en Van der Walt probeer om haar gereeld te besoek, want sy is al wat Sharon-Lee oor het, maar geld vir brandstof is min.

Sharon-Lee is die eniste oorlewende van die Stander-gesin.

Haar ma Linda Stander, en suster, Nastassja, is albei onlangs dood.

Nastassja is op 21 Desember 2021 na ‘n beroerte dood. Sy het bloeding op haar brein gehad. Sy het nes Sharon-Lee ook epilepsie gehad.

Ma Linda het net verlede week gesterf.

‘n Skandering het gewys dat Linda ook ‘n ligte beroerte gehad het en sy het boonop ‘n week later ‘n epileptiese toeval gehad.

“Haar buik het geswel en sy het ‘n bloedtekort gehad en was kort van asem. Linda is per ambulans na die hospitaal geneem waar sy kort na haar aankoms oorlede is,” het Van der Walt verduidelik.

Mense wat vir Sharon-Lee en haar tante wil bystaan, kan vir Van der Walt skakel by 078 195 8880.

Sharon-Lee Stander nadat sy ‘n jaar gelede teruggekeer het huistoe. (Foto: Verskaf)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button