Ons Eie-inwoners op Delmas word bederf op Moedersdag
‘Delmas se Elvis’, het gesorg vir groot vermaak met liedjies van Elvis Presley en sy kontrei-musiek het ’n paar sneesdoekies te voorskyn laat kom terwyl die Heidelied vir heimwee en groot verlange na vervloë dae gesorg het.
’n Jolige gees met sang, soetigheid en blomme het by Ons Eie Ouetehuis op Moedersdag geheers.
Onder die leiding van Cathrine von Molendorf, het vrywilligers vanuit die gemeenskap op Sondag, 8 Mei ’n tydjie ingeruim om die moeders, oumas en oumagrootjies van Ons Eie se spesiale dag op te kikker.
Nico Prinsloo, of beter bekend in plaaslike kringe as ‘Delmas se eie Elvis’, het gesorg vir groot vermaak met liedjies van Elvis Presley en sy kontrei-musiek het ’n paar sneesdoekies te voorskyn laat kom terwyl die Heidelied vir heimwee en groot verlange na vervloë dae gesorg het.
Cathrine het almal verras met haar heerlike kontrei-sang en die ou lyfies het los geraak op die ritme van haar prag sangstem.
Daar is darem ook tyd ingeruim vir tee en kolwyntjies en die kleingoed teenwoordig het aan elke bejaarde het ’n blommetjie oorhandig.
“Dit is so lekker om deel te wees van die Delmas- en Eloff-gemeenskappe. Die mense maak hul harte oop wanneer ek met ’n idee opkom. Niemand sê ooit nee nie en ek waardeer die bereidwilligheid om te help en by te dra,” het Catherine gesê.
Sy het bygevoeg dat daar soveel moeders se harte op Moedersdag bly gemaak is.
Cathrine moedig ook die gemeenskap aan om vir die bejaardes te gaan kuier.
“Baie van hulle is baie eensaam. Elkeen van hulle het ook hulle plek in die gemeenskap volgestaan. Neem vir hulle iets soos vrugte en gaan groet.
“Jou besoekie en ’n paar minute van jou tyd, kan ’n baie groot verskil in die dag van ’n bejaarde maak.”
Cathrine het almal wat bygedra het om Moedersdag vir die inwoners van Ons Eie Ouetehuis spesiaal te maak, bedank. “Dankie aan Pretorius Blomme vir die blomme, Laerskool Eloff se leerders vir die maak van die pragtige kaartjies en Mona Makes vir die smullekker kolwyntjies en natuurlik ook vir Nico Prinsloo vir sy musiek en sang.”
“Dankie ook vir die personeel van Ons Eie Ouetehuis wat ons toegelaat het om die oggend daar te bestee,” het Cathrine afgesluit.











