Gert Vermaak van Standerton se hande staan vir niks verkeerd nie
Sy werkgewer het nie eens daaraan gedink om hom op 65 jaar op verpligte pensioen te laat gaan nie.
Gert Vermaak van Standerton het op 70 jaar na meer as ’n halfeeu in die motorbedryf, die tuig een goeie môre neergelê.
“Toe ek opstaan die oggend, het ek besluit om af te tree,” het Gert vertel.
Sy werkgewer het nie eens daaraan gedink om hom op 65 op verpligte pensioen te laat gaan nie.
Hy het destyds sy ambag as werktuigkundige in Germiston voltooi en het petrol- en dieselaaangedrewe voertuie versien.
Gert het as voorman en diensadviseur by die werkswinkel van die voormalige Ritchie Ford werskaf, soveel so dat oom Winston Ritchie hom juis gepols het: “As hulle bloed by jou trek, is dit rooi of blou?
“Ek het net gelag.”
Hy het sy ondervindinge met die publiek en hulle voertuigprobleme kortliks saamgevat.
“Wat mense vreeslik irriteer, is daardie ‘rattle’ in die kar.”
Sy raad met die aantal slaggate wat ’n bestuurder teëkom, is om stadiger te ry, nie te rem as die gat getref word nie omdat die impak op die voertuig dan groter is.
Die Vermaaks het hulle in 1987 op Standerton kom vestig waar Susan vir jare die tuisteskepper was.
Gert en Susan het destyds in Potchefstroom ontmoet en is daar getroud.
Gert se beroep het hulle na verskillende dorpe geneem, dwarsoor Newcastle, Bothaville, Virginia, Welkom tot Nelspruit.
“Ek sal vir seker ’n Ford koop,” het hy bygevoeg.
Die egpaar het twee dogters en ’n seun en altesaam vyf kleinkinders.
Santie die oudste, is adjunkhoof by Hoërskool Rob Ferreira op Witrivier, Gert is betrokke by ’n myn op Barberton en die jongste, Lizette, is die koster by die Gereformeerde Kerk op Standerton.
Susan het hoeka die boeke vir die kerk ook gedoen voordat sy begin werk het by ’n droogskoonmaker op die dorp.
Gert-hulle sal nie sommer verhuis nie.
“Dan moet ek weer vir my ’n ander kerk loop soek.”
Hy het moue opgerol en begin timmer en skaaf aan die kerk tydens die inperking.
Sy instandhoudingswerk het die afhaal van die buitedeure, skuur en behandeling daarvan en nuwe deurslotte ingesluit en die kombuis se opknapping.
Tuis het Gert ’n Wendy-huis in ’n werkswinkel omskep om houtwerk te doen.
Moet dan ook nie vergeet van die bakkie, ’n wit Ford Ranger, se enjin wat uitgehaal en oorgedoen is.
Die woonwa is al die jare gesleep na hulle gunsteling vakansiebestemming, die skilderagtige Cape Vidal waar lyn natgemaak is.
’n Skeertandhaai van 100 kilo’s is op Gert se kerfstok.
Gert wat destyds vir Suidoos-Transvaal gehengel het, het laat val dat vir varswaterhengel hy die Vaaldam-‘special’ gebruik.
Meer wou hy nie verklap nie en hy verkies vis bó vleis enige dag.
Dié man is lief vir lees en Louis L’Amour is na sy mening ’n bobaasstorieverteller.
“Ek glo nie daar is enigiemand anders wat die mense en die tydsgees so goed kan saamvat nie.”
Op die keper beskou Gert Vermaak die ontmoeting met sy vrou as ’n hoogtepunt in sy lewe en daarna die geboorte van sy kinders.
Wat meer kan ’n mens sê, ’n gesinsman deur en deur.



