Local newsNewsStreeknuus

Polisie op Delmas span rubberkoeëls in om optoggangers te verjaag

Kort na die oorhandiging van die memorandum het lede van AVPP met wapens vanuit hul voertuie te voorskyn gekom.

Wat ’n vreedsame oorhandiging van ’n memorandum moes wees, het ontaard in ’n geveg met messe, wapens en rubberkoeëls.

Die optog het op Woensdag, 11 Mei onder die vaandel van die die African Voice Progressive Party (AVPP) vanaf Shabangustraat weggespring.

Die optoggangers het in die rigting van die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit (VKLM) se kantore beweeg.

Die AVPP is die amptelike opposisieparty binne VKLM en het op wettige wyse toestemming gekry vir die optog en om ’n memorandum aan die burgemeester van VKLM, Vusi Buda, te oorhandig.

Rubberkoeëls moes ingespan word om die vyandige skare uitmekaar te dryf. (Foto: Verskaf)

Die AVPP-party is gedurende 2021 onder die vaandel van die omstrede geskorste en voormalige speaker van VKLM, Khaya Segone, gestig.

Segone was ook intussen weer as ’n verteenwoordigende raadslid van die AVPP by VKLM ingehuldig.

Die memorandum het glo onder andere op beter dienslewering aan die inwoners van VKLM aangedring.

Die uitsetting van inwoners van die informele nedersettings van onder andere Waaikraal en Mimosa moes skynbaar ook gestaak word.

Daar sou glo ook aangedring word op die onmiddellike verskaffing van dienste aan dié informele nedersettings.

Die aanstelling van verkeersbeamptes, wat onlangs gekwalifiseer het, het ook weer onder die vergrootglas gekom.

Daar is verder aangedring dat werkers binne VKLM wat nie aan die minimum vereistes voldoen nie, met onmiddellike ingang uit hul poste verwyder word.

Volgens kapt Carla Hartley, mediawoordvoerder vir die Delmas Polisie, het die oorhandiging rustig verloop.

Die oproeriges het dié bakkie van ’n veiligheidsmaatskappy se bande met messe stukkend gesteek. (Foto: Verskaf)

Kort daarna het ’n klomp lede van AVPP met wapens vanuit hul voertuie te voorskyn gekom.

Onder die wapens was messe, knopkieries, moersleutels en skerpgemaakte ysters.

Die groep het voortgestorm en hekke op die munisipale perseel oopgebreek.

Tydens die skermutseling is twee veiligheidswagte met messe aangerand.

Die een het ’n meswond aan die skouer opgedoen. Twee ander wagte is ook aangeval en beseer.

Weens die erns van die situasie, het die wagte geen ander keuse gehad as om met rubberkoeëls die gewelddadige skare uitmekaar te dryf in ’n poging om hulle tot bedaring te bring.

Volgens Hartley, het die skare hierna vyandig geraak en begin om skade aan geboue en voertuie aan te rig.

Hier kan die skade aan die vensters van ’n plaaslike veiligheidsmaatskappy se bakkie gesien word. (Foto: Verskaf)

Vensters van die munisipale gebou is gebreek en selfs ’n voertuig van die veiligheidsmaatskappy wat naby aan die ingang na die gebou geparkeer was, is tydens die skermutseling beskadig.

Van die voertuig se vensters is stukkend geslaan en bande is stukkend gesteek.

Die vier veiligheidswagte is vir behandeling van hul beserings na ’n privaat hospitaal geneem.

Sake van publieke geweld, oortreding van die Wet op die Regulering van Byeenkomste, poging tot moord en kwaadwillige saakbeskadiging is geopen.

Teen druktyd kon daar bevestig word dat geen inhegtenisnames nog gemaak was nie.

Dit sou glo binnekort volg.

Related Articles

Back to top button