Local newsNews

Bethal VLU-vroue hou vergadering

Belangstellendes is welkom om volgende vergadering op 14 Junie by te woon.

Vroue van die Bethal VLU-tak het op Dinsdag, 17 Mei vergader en Maruné van Vreden, ’n spelterapeut op Bethal, het die vroue toegespreek.

Van Vreden het ’n privaat praktyk op Bethal en werk met vier- tot 18-jarige kinders by verskeie skole op Bethal.

Sy het gesê om ’n verhouding met ’n kind op te bou, is deel van spelterapie.

“Trauma word sensories gebêre in die liggaam.

“’n Mens loop byvoorbeeld verby iemand en as jy haar parfuum ruik, laat dit jou terugdink aan iets, goed of sleg.

“Dit is hoe ’n mens se brein dinge onthou.

“’n Mens sien dalk iets en dit neem jou geheue terug na ’n gebeurtenis.

“Dit is dieselfde met ’n kind en spelterapie doen sensoriese bewusmaking vir kinders.”

Hoewel sommige kinders dit moeilik vind, help dit hulle om meer gemaklik te wees.

Van Vreden het ’n voorbeeld genoem van ’n kind vir wie die reuk van asyn ’n sneller was en sy het onder die terapeut se tafel gaan skuil.

Die hele sessie moes onder die tafel gedoen word omdat dit die kind se veilige plek was.

Volgens Lynette Poshumus, Bethal VLU-tak se skakelbeampte, het Van Vreden ook genoem dat baie kinders ADHD het, maar dat dit in sommige kinders voorkom weens trauma.

“Baie kere as daar deur die trauma gewerk word, toon die kind geen simptome meer van ADHD nie,” het Van Vreden gesê.

“In baie gevalle word die kind vir ADHD behandel, maar word nie beter nie en dokters maak dan gewoonlik die dosis medikasie al hoe hoër en die kind word net soos ’n zombie.

“Trauma is uniek vir elke persoon en mense moet nooit vir ’n kind dinge sê soos: ‘Ag dis nou simpel, hou op huil’ of ‘Kom nou, dis nie so erg nie, daar is nie bloed nie’, want vir daardie kind is dit dalk ’n baie traumatiese insident.”

Van Vreden gebruik graag klei wanneer sy met kinders werk omat klei die sensoriese dele aanraak en ’n mens deesdae klei in verskeie geure kan kry.

Sy het gesê spelterapie is ook baie voordelig vir ouer mense en mense wat aan Alzheimers se siekte ly.

Die Bethal VLU-tak se volgende vergadering is op Dinsdag, 14 Junie om 13:30 by die NG Kerk Bethal-Oos-gemeente.

Vir meer inligting, skakel Posthumus by 072 203 6230.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button