Local newsNewsStreeknuus

Hartaanval eis Dok Hennie van Bronkhorstspruit

Dok Hennie los gemeenskap agter weens hartaanval

“Ryk, teverde en vreesloos,” was die kenmerkende antwoord as jy vir dr. Hendrik Westerman gevra het hoe dit gaan.

Dr. Hendrik Alfred Westerman, of Dok Hennie soos meeste hom geken het, is op Maandag 16 Mei, in die ouderdom van 75 jaar aan ’n hartaanval oorlede.

Hy het in Februarie ’n hartoperasie ondergaan.

Ná ’n paar keer se in en uit die hospitaal, het hy egter goed begin herstel en oudergewoonte weer dou voor dag begin oefen.

Dok Hennie was skaars uit die hospitaal na die laaste opname, toe hy weer pasiënte gesien het en die daaglikse bedrywighede na normaal begin terugkeer het.

Dr. Westerman het hom in 1977 op Bronkhorstspruit gehuisves pas ná die voltooiïng van sy praktiese jaar by HF Verwoerd (Steve Bikho) Hospitaal.

Hy het saam met drs. Botes, Roets en De La Port in vennootskap getree tot in 1980.

In 1981 het hy tot die praktyk van drs. Gideon en Jan Roos toegetree tot in 1984 toe hy na Pullenshope verhuis het om as mediese dokter by die Hendrina Kragstasie te werk.

Dr. Westerman het van Februarie 1996 tot September 1996 in Australië in Queensland en Suid-Australië gepraktiseer.

Hy het hierna na Bronkhorstspruit teruggekeer en ’n praktyk in ’n gedeelte van sy huis gehad tot die einde waar hy tesame met Sonkies van Niekerk, die distriksgeneesheer van Bronkhorstspruit van 1977-1980, was.

Dr. Westerman het verder studeer vir M.Prax. Med as huisarts en D.Hom as Homopaat. Hy het ook kursusse in wynmaak, en akupunktuur voltooi.

Mense wat hom geken het, sal hom beslis onthou as iemand wat altyd uiwerig was om sy medemens te help.

Die gesegde “Ryk, tevrede en vreesloos” het bewys hoe lief hy vir sy Skepper was.

Vra jy hom wat dit beteken het, het hy met trots en baie breë bors gesê: “ryk- is vir ryk in God se liefde, tevrede- is vir tevrede met dit wat die Here jou bied en vreesloos- is vir geen vrees met God aan my kant nie”.

Sy gesin onthou hom as iemand as ’n man wat enigiets saam sy kleinkinders sou gedoen het, van rotse afspring, glybane gly, boomhuis speel, fietsry en selfs pop speel.

Hy het sover gegaan om selfs hul eie glybane, kasteel, boomhuis en gimnastiekaparate by sy huis te bou.

Gedurende die Covid grendeltydperk het dr. Westerman en sy kleinkinders die een buite muur van sy huis geverf met die aardbol en hemelruim.

Hierdie kunswerk se buite lyne is met al die spuitnaald proppies en al die penne wat hy oor die jare geberg het na gebruik, uitgelê.

“Hy het altyd ’n rede gesoek, en tyd gemaak, om sy kleinkinders uit die huis te kry, al was dit net om te gaan piekniek langs die Bronkhorstrivier of om saam vriende te gaan boot ry.

“Hy was ’n baie streng man en dinge moes altyd reg wees, maar so streng as wat hy kon wees, net so sagmoedige en onselfsugtig was hy.

“Hy sou altyd raad gee waar nodig. Hy was gaande daaroor as mens hom iets vra of sien wat hy nie weet nie. Dan sou hy boeke gaan naslaan of sy kinders vra om vir hom dit te google. Hy wou altyd alles van alles weet en sodoende was sy kennis onbeperk op onbepaalde gebiede van die lewe,” het sy dogter, Ronel Struwig vertel.

Hy word oorleef deur sy vrou, Mariena Westerman, sy seun, Tommie Westerman, sy dogters, Maxie Wagner, Adele Grobler en Ronel Struwig, en hul gardes en sewe kleinkinders.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button