Oud-skoolhoof stry vrywillige stryd teen slaggate op Eloff
“Ek was self kort vantevore ’n slagoffer van ’n slaggat en het ’n band afgeskryf op die R555 tussen Delmas en Eloff.”
Slaggate is ’n reuse probleem, nie net in die Victor Khanye Munisipaliteit (VKLM) nie, maar landwyd.
Oud-skoolhoof van Laerskool Eloff, André Gildenhuys het lankal besluit dat selfdoen beter is as niks doen nie.
Streeknuus het reeds in vorige uitgawes berig oor Gildenhuys en sy getroue werker, Joseph Nkosa wat die slaggatvul-aksie in die omgewing van die laerskool met ywer dryf.
“Ek en Joseph het besluit om maar weer ’n paar gate op die hoek van St. Andrews- en Kirbystrate te gaan toemaak. Daar is egter soveel gate, dit is ’n byna onbegonne taak,” het Gildenhuys gesê.
Volgens Gildenhuys, het hy nog van die slaggatvulsel soos deur AfriForum op Delmas geskenk, gebruik om die slaggate te vul.
“Ons het die laaste vulsel wat ek gehad het, gebruik om dié sewe gate mee te vul. My vulsel is ongelukkig nou klaar. Ek hoop dat daar buite nog iemand is wat bereid is om vulsel te skenk,” het Gildenhuys gesê.
Hy beplan steeds om elke Dinsdagoggend tussen 09:00 en 11:00 vrywillig slaggate op Eloff te vul.
“Ek sal dit baie waardeer as iemand met vulsel kan help. Vrywillige hande om vir my en Joseph by te staan, is ook baie welkom.”
Op ’n vraag aan Gildenhuys hoekom hy dan voortgaan om slaggate te vul, was sy antwoord: “Ek was self kort vantevore ’n slagoffer van ’n slaggat en het ’n band afgeskryf op die R555 tussen Delmas en Eloff. Ek sal dus maar voortgaan om dit te doen en sal selfs die groot en diep gate op die R555 ook wil herstel. Ek het net die materiaal nodig om dit te kan doen.”




