Witties se fietsryer behaal brons
“Fietsry is ’n fees en ek wil so lank as moontlik deel daarvan wees.”
Laerskool Witpoort se fietsryer, Sheldine Joubert het Saterdag, 21 Mei aan die XCM-fietswedren op Buffeldrift deelgeneem.
Sy het die derde plek verower.
Haar liefde vir fietsry is gekweek deur haar pa en het vlamgevat met die geleentheid wat deur ’n onderwyser, Elzette Myburg, geskep is om ’n fietsryspan by die skool te begin.
“My pa se broer, Rudi Joubert, het ’n prostese aan sy linkerbeen en is ’n professionele fietsryer. Hy is my inspirasie,” het Sheldine vertel.
Sy het ook vroeër in Mei op Barberton aan die Monster 20km-bergfietswedren deelgeneem.
“Ek poog altyd om my beste te lewer in wat ek aanpak. Die Monster was beslis ’n groot prestasie vir my ouderdomsgroep,” het sy laat hoor.
Sy oefen saam met haar pa drie dae ’n week en lê selfs tussen 10km en 15km af op haar binnenshuise fiets.
“Fietsry skep vir my die gevoel van deursettingsvermoë, dissipline en beslis respek en liefde vir die natuur. My huidige fietsry-droom is om elke wedren met selfversekering te voltooi. Dit maak my trots,” het sy afgesluit.




