Gerhard Bierman van Bronkhorstspruit is die man agter die pen
Uit rou stuk hout word penne gemaak waaruit woorde vasgele word
Bronkhorstspruiter, Gerhard Bierman maak seker daar is genoeg ink in sy pen.
Tot op hede het hy 30 penne self gemaak uit verskillende mediums soos hardehout, verkieslik raar spesies, sowel as been of epoxy.
“Elke pen, al is dit dieselfde hout, lyk en voel anders in die hand,” het hy laat hoor.
Sy penmaak-stokperdjie het onlangs eers vlamgevat nadat hy op sosiale media blootgestel is aan die gedagte.
“As ek sien hoe ontwikkel die pen terwyl ek dit draai, is dit asof jou gedagtes met stilte gevul word en mens dink aan niks anders nie,” het hy verduidelik oor die effek wat die proses op hom het.

Die gevoel van hout in sy hande, die geluid van die draaibank, die aroma in die lug, speel elkeen ’n rol in hoe sy penne lyk.
“Sommige hout gee ’n aangename soet reuk af, terwyl ander amper na niks ruik nie of selfs stink, maar elke reuk bring iets uniek na vore,” het hy vertel.
Hy boor eers ’n gat deur die middel van die stukkie hout. Soos die proses verloop, plaas hy die hout op die draaibank en draai dit dan in die grote wat geskik is vir die pen.
“Ek gebruik cyanoacrylate as ’n seelmiddel en skuur en vryf tot ’n hoë glans,” het hy bygevoeg.
Hoewel hy nie noodwendig homself as ’n skrywer beskou nie, maar meer soos die man agter die pen, verseker hy dat digters ’n oorspronklike storie met ’n oorspronklike pen kan skryf.
“Dit is vir my ’n manier om te ontspan en te ontsnap, amper asof ek weggevoer word in die draai en maak van ’n pen,” het hy afgesluit.




