Local newsNewsStreeknuus

Delmas VLU-vroue hekel by Wolhuys in Benoni

Die vroue kon patrone kies en lekker deur al die pragtige en groot verskeidenheid beskikbare wol snuffel tydens die beplanning van hulle kleursamstellings.

Met die winter op die voorstoep, het die vroue van Delmas se Vroue Landbou-unie by Wolhuys in Benoni gaan kuier.

Die groep, insluitend drie gaste, Adele Viljoen, Leandri du Plooy en Arina Coetzee het op Dinsdag 17 Mei by Wolhuys in Benoni aangemeld.

Met hul aankoms is hulle deur die voorsitter, Marié Terblanché welkom geheet. Tydens die formaliteite van die vergadering is die lede oor die volgende mini-skou ingelig.

Die streekvoorsitter, Debbie du Plessis, gaan ook die Delmas VLU-tak tydens hul volgende mini-skou besoek.

Nog nuus is dat Lynette Snyman die tak gaan besoek waartydens sy ‘n werkklas in brandskilderwerk gaan aanbied.

Hier verkeer VLU-lid, Ansie van Zyl saam met twee van die entoesiastiese gaste, Arina Coetzee en Leandri du Plooy, in ligte luim. (Foto: Verskaf)

Delmas VLU beplan ook om gedurende Junie ‘n uitstappie na ‘n glasfabriek te onderneem en alle belangstellendes word genooi om deel daarvan te wees.

‘n Vroue-oggend in Witbank is verder op die ywerige lede van Delmas se VLU-tak se agenda.

“Daar gaan uitstekende motiveringsprekers tydens dié vroue-oggend aan die woord wees. Die vroue word aangemoedig om dit by te woon aangesien dit so lewensverrykend gaan wees,” het Magriet Swart, skakelbeampte vir die Delmas VLU, Streeknuus meegedeel.

Na die afloop van die algemene vergadering se formaliteite, het die hekel-pret begin.

Susan Cronjé, Margaret Bezuidenhout en Jané Oosterhuis neem ’n blaaskans tydens die hekelsessie by Wolhuys in Benoni. (Foto: Verskaf)

Dalien van die Wolhuys het die vroue touwys gemaak hoe om ‘n strandsak te hekel.

“Die vroue kon patrone kies en lekker deur al die pragtige en groot verskeidenheid beskikbare wol snuffel tydens die beplanning van hulle kleursamestellings,” het Swart bygevoeg.

Dalien het voortgegaan deur die vroue te leer hoe om hul projekte te begin, gare te las en patrone te lees.

Die vroue het glo ook heelhartig saamgestem vir ‘n opvolgklas indien hulle enigsins sou vashaak in hul hekelprojekte.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button