Local newsNewsStreeknuus

Seniors op Delmas moet nou meer opdok vir verblyf

Tydens die onlangse voorlegging van die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit (VKLM) se begroting vir 2022/23 was die maandelikse huur van die senior burgers, woonagtig in Malita- en Herfsland Aftreeorde in Delmas, met ’n verdere 10% verhoog.

Met ongekende styging in die koste van elektrisiteit, water, brandstof en voedsel, kon die huurverhoging vir seniorburgers nie op ’n slegter tyd gekom het nie.

Dit is die mening van die Pieter Senekal, raadslid vir die Vryheidsfront Plus (VF+) by die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit (VKLM) op Delmas.

Tydens die onlangse voorlegging van die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit (VKLM) se begroting vir 2022/23, is die maandelikse huur van die seniorburgers, woonagtig in Malita- en Herfsland Aftree-oorde op Delmas, met ’n verdere 10% verhoog.

Volgens Senekal volg dié verhoging nadat die inwoners se huurgeld sedert 2020 reeds vanaf R480 per maand na R825 per maand verhoog is.

Inwoners moet nou ’n astronomiese R925 per maand opdok vir hul woonplekke – wonings waaraan die munisipaliteit min of geen instandhouding doen nie.
Streeknuus het ook by verskeie geleenthede vantevore berig oor individue, besighede en gemeenskapsorganisasies soos die Valke Buurtwag en AfriForum Delmas wat moes inspring met die vervanging van warmwatertoestelle, dakke, en palissades moes verf en ander noodsaaklike herstelwerk moes verrig.

Na die toenemende aanranding op van die bejaardes by Malita Aftree-oord, is daar ook veiligheidskameras aangebring met die hulp van die gemeenskap en ander instansies.

Die Valke Buurtwag het ook so onlangs as 2021 elektriese heinings by Malita Aftree-oord laat aanbring (Streeknuus, 24 September 2021).

“Ons moes na die welstand en veiligheid van die seniorburgers begin omsien. Ook hier het borge bygestaan om die koste ten opsigte van die heining en kameras te help dra. Die funksie van veiligheid en instandhouding word glad nie meer deur die munisipaliteit nagekom nie. Sommige van die bejaardes moes al vir so lank as vier maande sonder warm water klaarkom. Weer eens moes AfriForum en die buurtwag ingryp en help,” het Carel Botha, voorsitter van AfriForum op Delmas gesê.

“Neem verder in ag dat die SASSA-toelaes vanaf die staat met slegs R20 per maand verhoog is. Dit plaas ons seniorburgers in ’n benarde situasie,” het Senekal verder gesê.

“Dit is verstaanbaar dat daar wel prysverhogings in dienslewering ook moet wees.”

Volgens Senekal is daar tans baie VKLM-inwoners wat gratis elektrisiteit en water gebruik. Dit weens die diefstal van watermeters en onwettige en direkte koppelings van krag en water.

“Dit veroorsaak weer swak of ’n algehele gebrek aan kredietbeheer aan die kant van VKLM.”

Senekal het verder gesê dat hy tydens die begrotingsvergadering aan die raad voorgestel het dat die 10% verhoging geskrap moes word, maar dit is afgekeur.

Indien daar geen verhoging op die pensionarisse se huur sou wees nie, sou dit ’n verlies van minder as R15 000 per maand op die totale operasionele begroting wat R803 miljoen beloop, ’n verlies wat dus skaars ‘gevoel’ sou word.

Vir die pensioenarisse is die verhoging van R82 per maand egter seer op die sakke.

Senekal het benadruk dat die voorgestelde begroting nie deur die VF+ sowel as die AVPP-party (African Voice Progressive Party) goedgekeur is nie.

Die ANC-beheerde VKLM, sowel as die DA, was egter ten gunste van die voorgestelde begroting.

Volgens Diane Bath, DA-raadslid en koukusleier van VKLM, sou daar egter glo veranderinge aan die voorgestelde begroting aangebring word.

Lees meer hieroor in die volgende uitgawe van Streeknuus.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button